Neville Turley

Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas.  Spreuke 19:21

Jona was die enigste passasier op die skip na Tarsis en hy kon seker oral op die skip rondbeweeg. Ek stel my voor tydens die vertrek van die skip staan hy by die reëling van die skip en kyk na die hawe van Joppe wat in die verte verdwyn.

Jona was waarskynlik heel tevrede met homself. Sy plan om sover as moontlik van Nineve af weg te kom, was besig om te realiseer. Wat Jona nie geweet het nie, was terwyl die skip na Tarsis seil, was hewige stormwolke besig om saam te pak.

Die almagtige God wat in beheer van die heelal is, en ook van elke individu se bestemming, het onafgehandelde sake met Jona gehad en Jona sou binnekort daarvan bewus word.

'n Hewige storm het uitgebreek en reuse branders het teen die skip geslaan. Die skip kon later nie meer die storm weerstaan nie en was in gevaar om uit mekaar te breek.

Die bang matrose het besef dat hulle nie oor die nodige vaardighede beskik het om die skip te red nie. Beangs het elkeen desperaat tot sy eie god om hulp geroep. Hulle het selfs die vrag van die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak en om te probeer keer dat hulle sink.

Te midde van die krisis het Jona gedoen wat baie mense doen wanneer hulle hulleself in 'n situasie buite hulle beheer bevind. Hy het hom onttrek. Hy het in die ruim van die skip gaan lê en slaap.

Die skeepskaptein het hom daar gekry en hom kwaai aangespreek: “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou god. Miskien sal hy aan ons dink en dan sal ons nie vergaan nie.” (Jona 1:6)

Dit kon die arme Jona nie doen nie want hy was besig om van God weg te hardloop. Hoe kommunikeer jy met God as jy desperaat besig is om Hom te vermy?

Kom ons bid dat ons ons nooit in 'n soortgelyke situasie sal bevind nie.

Gebed: Vader, watter wonderlike voorreg dat ons in die Naam van Jesus in gebed tot U mag nader. Amen