Neville Turley

Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk! 1 Korintiërs 16:13

Wat verlang God van ons? In die Tien Gebooie wat God aan Moses oorhandig het, het Hy uiteengesit wat Hy van elkeen van ons, sonder uitsondering, verlang. Die eerste vier gebooie stipuleer ons verantwoordelikhede teenoor Hom.

Allereers vereis God ons algehele getrouheid – "Jy mag naas My geen ander gode hê nie."

Mense in die antieke wêreld het baie gode aanbid en het nie die Almagtige God eerste geplaas nie. In die tweede gebod stel God dit baie duidelik: " … want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My."

In die derde gebod vereis God respek van ons. "Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie."

God se vierde gebod is eweneens bindend. "Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou."

Nie een van ons kan met 'n rein gewete sê dat ons aan die standaarde wat God vereis voldoen nie, en Jona was geen uitsondering nie. Die Here sal nie tevrede wees om tweede viool te speel met ons persoonlike begeertes nie. Jona was egter beslis om sy eie kop te volg.

God het vir Jona gesê om oos te gaan en Jona het wes gegaan. God het Jona geroep om na Nineve te gaan, maar Jona het in die teenoorgestelde rigting na die hawe van Tarsis gegaan. Tarsis was 'n Fenisiese handelstad aan die Spaanse kus. Dit is vernoem na 'n kleinseun van Noag wat die stad gestig het.

Tarsis was sover weg van Nineve as wat Jona kon gaan. Om daarheen te kon reis, het hy na die hawe van Joppe gegaan. Daar het hy 'n skip gekry wat na Tarsis sou seil, hy het sy passaat betaal en saam met die bemanning aan boord gegegaan.

Jona het Tarsis egter nooit bereik nie. God het hom geroep om Nineve toe te gaan, maar Jona het besluit om sy verantwoordelikheid te ontduik en eerder te vlug. Jona het egter op die moeilike manier geleer dat jy kan van God weghardloop, maar jy kan nie vir Hom wegkruip nie.

Wanneer die Here roep, maak nie saak hoe oorweldigend die taak is nie en al voel ons ons is nie daarvoor toegerus nie, moet ons die geleentheid aangryp – vol vertroue dat die Heilige Gees ons sal bekragtig om dit wat God van ons verlang, te doen.

Gebed: Hemelse Vader, ons loof en aanbid U. Ons wil gehoorsaam aan u wil wees. Help ons sodat ons aan U die eer kan bring. In die Naam van Jesus. Amen