Neville Turley

Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.  Jesaja 41:10

Hoekom het Jona God se roeping om na Nineve te gaan geweier? Was om alles wat vir hom kosbaar was agter te laat en vir die Assiriërs met hulle losbandige, sedelose leefstyl te gaan preek, net te veel gevra van Jona? Was hy bang?

Almal van ons het vrese waarmee ons saamleef en wat ons probeer oorkom. Ons is soms bang dat ons nie ons daaglikse uitdagings sal kan hanteer nie. Ons is bekommerd oor ons geliefdes. Ons vrees swak gesondheid en finansiële onsekerheid. Ons is bang vir pyn en die dood. Die lys gaan aan en aan.

Die Bybel erken ons vrese. Daar is byna 'n honderd gedeeltes wat ons aanmoedig om nie bang te wees nie. Dit is makliker gesê as gedoen.

Selfs die apostel Petrus wat die voorreg gehad het om saam met Jesus hier op aarde te leef, het in 'n oomblik van vrees, ons Here Jesus Christus verraai om sy eie bas te red.

Profete was hoofsaaklik manne van geloof wat God se wil vir die mense verklaar het. Hulle roeping het dapperheid geverg. Hulle is dikwels gespot en was in fisiese gevaar. Baie is doodgemaak deur diegene wat vasberade was om hulle stil te maak.

As 'n profeet, is Jona seker ook dikwels gekonfronteer deur diegene wat teen sy prediking gekant was. In sy lewensverhaal is dit egter duidelik dat hy 'n dapper man was. Hy was selfs bereid om oorboord gegooi te word om die skip se bemanning te red.

Vrees was dus nie die motivering vir Jona se ongehoorsaamheid nie. Deur weg te hardloop het hy ook alles wat vir hom kosbaar was, verruil vir die onbekende.

Jona het teen God gerebelleer omdat hy raadop was. Hy wou kop uittrek. Hy wou homself losmaak van sy verhouding met God en die verantwoordelikhede wat dit meebring. Mense doen dit vandag nog.

God versaak nooit diegene wat Hy roep nie. Jona het uiteindelik besef dat God se liefde duur vir ewig. Daarin lê ons primêre veiligheid.

Gebed: Hemelse Vader, ons loof en prys U in die Naam van Jesus. Nie een van ons ken die toekoms nie, maar ons weet dat ons nooit alleen is nie want u Heilige Gees lei ons elke tree wat ons gee. Amen