Hennie Symington

… “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.” Eksodus 33:17

In die vroegste tye het God meestal in drome en visioene met die profete gepraat. Maar met Moses, het God self te kenne gegee, “Met hóm praat ek direk en persoonlik.” Numeri 12:8

Wat leer ons uit die manier waarop Moses gebid het? Kom ons kyk na ʼn paar eienskappe van sy opgetekende gebede:

  • Moses het gebid soos hy praat – in eenvoudige taal.
  • Moses het sy gebedstyl gewissel om aan te pas by die geleentheid en die doel van sy gebed.
  • Soms het hy staande gebid, en ander kere op sy knieё, en selfs op die grond uitgestrek met sy gesig na die grond.
  • Moses het enige tyd en enige plek gebid.
  • Moses het oor belangrike sowel as minder belangrike sake gebid.
  • Moses was nederig en eerbiedig in gebed.
  • Wanneer hy voor ʼn onmoontlike situasie te staan gekom het, het hy dit voor God gelê en nie in eie krag probeer oplos nie.
  • Moses het hom onderwerp aan die wil van God, maar het dit by tye gewaag om met God te onderhandel.
  • Moses het sy oё, ore en gedagtes ingeskerp om God se Woord te hoor.
  • Moses het God nie versoek met ʼn inkopielys van gebede nie. Hy het met God gepraat oor dinge wat saak maak.
  • God het Moses by die naam geroep omdat hy in God se oё guns gevind het.

Wat ʼn wonderlike getuienis van ʼn man wat meer as enige ander mens in die Bybel daarin geslaag het om die hart van God te verstaan.

Gebed: Gee dat Moses se voorbeeld ʼn inspirasie sal wees vir leiers sowel as vir elke gesinshoof en ook in my eie lewe. Amen