Hennie Symington

Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit. Lukas 9:29

In ons tyd het lofprysing en aanbidding ʼn nuwe en groter betekenis in ons geloofslewe aangeneem. Dis asof mense die behoefte om God te verheerlik opnuut ontdek het, soveel so dat die meeste hoofstroomkerke en gemeentes meer plek en tyd inruim vir lofprysing en dankliedere as deel van die hulle eredienste.

Hoe kan ʼn mens God se heerlikheid beskryf?

Dis moeilik vir ons om presies te verstaan hoe God se glorie en heerlikheid daar uitsien. In die verskeie beskrywings van sy glorie, word daar aan ons te kenne gegee dat dit die skoonste gesig is wat ʼn mens ooit sal aanskou.

Volgens die ou bedeling, was God se almag meestal in ʼn wolk gehul. Ons weet nie presies hoe hierdie wolk gelyk het nie, maar ons kry die indruk dat dit ʼn unieke lig uitgestraal het, soos wat die Israeliete ervaar het op hulle tog uit Egipte na die beloofde land. Snags is hulle gelei deur ʼn vuurkolom. Trouens, die meeste van ons dink waarkynlik aan ʼn helder lig wanneer ons God se “heerlikheid” dink (Openbaring 21:23).

Wat ons wel weet is dat Christus die beliggaming van God se heerlikheid is, en dat dit sigbaar gemaak is aan van die dissipels. Die belofte is egter dat almal wat die Messias eer en dien, eendag die volle glorie van God sal aanskou. In die Nuwe Jerusalem sal ons hom van aangesig tot aangesig sien (Openbaring 21). Tot en met daardie tyd, laat ons lewe gevul wees met verwondering en respek vir God die Skepper en Jesus Christus as die Lig van die wêreld, sowel as die Heilige Gees wat God se teenwoordigheid by ons is.

Gebed: O Heer my God, as ek dink aan u skepping, en alles wat daarin is, dan staan ek eerbiedig stil en wonder: Hoe groot is U. En hoe klein is ek binne die groot heelal wat U geskep het. Tog sien U my raak. Dit is die wonder van u bestaan. Amen