Hennie Symington

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, … Psalm 8:2

"Skepper God en Heilige Gees, wie se stem ek hoor fluister op die wind, en wie se asem lewe blaas in die hele skepping, ek wat swak en nietig is, maak staat op u mag en wysheid. Gee dat ek die skoonheid van die skepping kan aanskou en laat my die werk van u hande eer. Laat my ore die klank van u stem hoor. Gee dat ek die lesse wat U in elke blaar en elke klip versteek het, sal leer.

Gee my die krag om nie sterker as my broer te wil wees nie, maar slegs genoeg om my grootste vyand, myself, te oorwin.

Laat my toe om voor U te staan met rein hande, ʼn onbesoedelde hart en heldersiende oë, sodat wanneer my lewe sak soos die son, my gees sonder skaamte kan terugkeer na U." (Gebed van ʼn Noord-Amerikaanse wysgeer)

Die skoonheid en grootheid van die natuur inspireer ons dikwels om ons verwondering in gebed uit te druk. Laat die gebed van die ou wyse man, ons met verwondering vir die natuur en die Een wat dit geskep het, vul. Wanneer jy die natuur aanskou, vra jou af, "Wat kan ek leer uit God se asemrowende 'prenteboek'" en dank hom vir die wonder van die skepping.

Gebed: Here, ons erken dat ons die natuur misbruik en verniel het om onsself te dien. Dit terwyl U as die Skepper dit aan ons toevertrou het om te benut en te bewaar. Gee dat ons U sal eer deur ons Moeder, die aarde te respekteer. Amen