Hennie Symington

… en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. … Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word … Dit doen die Here wat die Gees is. 2 Korintiërs 3:17-18

Die Heilige Gees wat God se teenwoordigheid onder ons is, maak dit vir ons as mense moontlik om aktief betrokke te wees by God se werk op aarde. Waarom? Omdat Hy dit persoonlik opneem. Hy werk binne die harte van die gelowiges om God se visie van die koninkryk, ook my visie te maak. Omdat die Gees sy asem oor ons blaas, word God se visie van hoop, ook my visie van hoop vir almal.

Daarom word die lyding van hierdie wêreld, ook my lyding en sal ek alles doen om die pyn en lyding van diegene wat God oor my pad bring te verlig.

In ʼn sekere sin, is die Heilige Gees God se speurder. Hy is teenwoordig in plekke waar geen mens dit wil waag nie, Hy is daar waar vlugtelinge rondmaal en barmhartiges en weldoeners in die vorm van mense soos ek en jy aanmeld om 'n hand van redding aan die moedeloses te reik.

Jy is die barmhartige Samaritaan: Die Heilige Gees is saam met jou daar wanneer jy jou hand uitsteek na ʼn kind wat die pad byster raak, of waar moeders en kinders geen hoop op ʼn heenkome het nie. Jy is die “naaste” waarvan Christus praat. Wanneer jy jou hand uitsteek na die diegene in nood, werk jy en miljoene ander soos jy mee om die Konkinkryk van God nader aan ons te bring.

Gebed: Laat my die draer van u vrede wees. En waar daar wanhoop is, die draer van hoop, waar daar duisternis is, die lig, en waar daar hartseer is, slegs vreugde, Heer. Amen