Uit dieptes gans verlore, van redding ver vandaan … - 24 Julie 2018

Hennie Symington

Uit dieptes, gans verlore, van redding ver vandaan, waar hoop se laaste spore in wanhoop my vergaan; uit diep van donker nagte roep ek, o HERE, hoor en laat my jammerklagte tog opklim in u oor. (Beryming Psalm 130)

Elkeen van ons het al voor God gestaan in die niemandsland van geloof, waar dit vir ons voel asof ons van God en mens verlate is. In tye soos die, voel dit asof daar ʼn afgrond is tussen jou en die vertroostende teenwoordigheid van ʼn God wat hoor, ʼn God wat sien en ʼn God wat antwoord.

Dit is egter nie die tyd om wilde uitsprake te maak oor die bestaan van God, of ʼn God wat, na jou oordeel, nie omgee nie, of ʼn God wat jou in die steek gelaat het nie.

In tye soos hierdie is dit dalk goed om ʼn slag die Galery van die Moedeloses, te besoek dis nou diegene in die Bybel wat gevoel het of hulle van God en mens verlaat is, of wat selfs getwyfel het oor God se bestaan. Dalk ontmoet jy ʼn paar ou bekendes wat nes jy, gevoel het God is nie daar nie. Daar’s Elia onder die besembos; Job wat sy sere op die ashoop sit en krap, en Dawid wat vlug vir sy lewe en in ʼn spelonk skuiling soek. Die diepste stem van verlatenheid was egter die van Christus aan die kruis waar Hy uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat!” (Matteus 27:49).

Eienaardig genoeg, is dit juis in hierdie woestyntye op ons geloofsreis wat die teelaarde is vir meer diepte in ons verhouding met God. In tye soos hierdie, vertrou en glo dat jy die stem van God sal hoor op sy tyd, en opnuut sal ervaar "...maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende..." (Jesaja 40:31).

Gebed: Dankie Here, dat U op u tyd boodskappe van liefde en versekering stuur wat my voortdurend herinner aan u teenwoordigheid. Amen

Go to top