Hennie Symington

As julle maar geloof so groot soos ʼn mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: “Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see, en hy sal julle gehoorsaam.” Lukas 17:6b

Sommige gelowiges vind dit ʼn voortdurende stryd om te bly glo, terwyl ander die gawe van geloof sonder veel innerlike wroeging of vertwyfeling ontvang. Sommige ontvang selfs geloof in oorvloed terwyl ander deur Paulus gemaan word om nederig te wees oor die stukkie geloof wat God aan elkeen geskenk het.

In 1 Korintiërs 12:9 lees ons dat geloof ʼn gawe van die Gees is wat aan sommige gegee word, terwyl ander die gawe van genesing en ander die gawe van tale of profesie of gasvryheid ontvang het. Dit gaan nie oor die gawe nie. Wat belangrik is, is om te aanvaar dat alle gawes deur die Heilige Gees aan ons geskenk is.

Om opreg te glo, is nie altyd ʼn maklike pad nie. Dis ook nie ʼn duidelik gemerkte padkaart wat jou rigting en afstand presies aandui nie.

Geloof is ook nie ʼn leuenverklikker wat ʼn duidelike prentjie in swart op wit van alles wat waar en alles wat vals is in soveel woorde aan ons uitspel nie. Geloof is meer as dit; dit is naamlik ʼn lewendige en voortdurende dialoog tussen God en sy mense, wat ons ruimte gee om te soek, en ruimte bied om gevind te word. Uiteindelik is dit ʼn geloofsreis, of ʼn bedevaart, soos dit beskryf is in die Psalms, en ʼn uiteindelike tuiskoms in die “huis van my Vader.”

Of jy dus struwel met jou geloof of selfs struikel in jou geloof, en of jy dit so maklik soos ABC vind om te glo, bly geloof ʼn ongelooflike gawe van God. Vir die meeste van ons is dit egter ʼn geval van: “Here ek glo; kom my ongeloof te hulp.” (Markus 9:24b).

Gebed: Here soms voel dit dat ons aan die onderste rang van geloof staan. Dankie Jesus, dat U getrou is en daar is om ons verder te lei op die pad van geloof, of om ons op te tel wanneer ons heeltemal tou opgegooi het. Amen