Hennie Symington

Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking en voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense … 1 Timoteus 2:1

Dis ek, dis ek o Heer, wat staan en wag op gebed…” (vry vertaal uit: “It’s me, oh Lord, standing in the need of prayer….”)Hierdie negerliedjie, "Standing in the need of prayer", is seker een van die “spirituals” wat die diepste ingebed is in die hart van mense regoor die wêreld. Hier in Japan word ek dikwels gevra om vir mense te bid. Baie van hulle bevind hulle in moeilike omstandighede in hulle huislike lewe of werkplek, en met baie min Christenvriende om hulle by te staan. En hoewel ek soms effens onkant gevang word, kan ek nie weier nie.

Hieruit het ek twee dinge en nog meer geleer! Eerstens, dat mense ʼn behoefte het aan bemiddelingsgebede. Hulle voel veilig wanneer iemand wie se geloof hulle kan vertrou vir hulle bid, en tweedens dat dit vertroostend is as iemand vir jou bid.

'n Christelike gemeenskap leef en bestaan in en deur die bemiddeling van lede vir mekaar. Waarom? Eenvoudig omdat jy nie die persoon vir wie jy bid kan haat of veroordeel nie. Soms ken ek nie eens die naam van die persoon wat my vra om te bid nie, maar deur saam te bid word hy of sy my broer of suster. Om iemand voor die aangesig van God te bring, beteken dat ons die persoon dieselfde reg gee as ek en jy om voor Christus te staan en deel te hê aan sy genade.

Natuurlik word daar van elkeen van ons verwag om vir ander te bid en as sulks, is dit ʼn gawe van God. Gebede vir ander moet dus in ons daaglikse doen en late ingebed word. Deur gereeld en doelgerig vir ander te bid, beteken dat ons nie net geroep word om getrou te wees in die belangrike take van geloof (volgens ons eie prioriteite) nie, maar ook in die geringe.

Gebed:Here Jesus, as ons Bemiddelaar, wat vir ons ingetree het aan die kruis, leer my om in te tree vir die een wat behoefte het aan gebed, maar niemand het om hom of haar te lei en te help om U in gebed te ontmoet nie. Amen