Hennie Symington

Laat u wil geskied in die hemel net so ook op die aarde. Matteus 6:10

Die Duitse filosoof, Dietrich Bonhoeffer, wat gedurende die tweede wêreldoorlog deur die Nazi’s tereggestel is, is vir maande in die tronk aangehou in afwagting op sy uiteindelike teregstelling. Voor, en gedurende hierdie periode, het hy ʼn aantal boeke geskryf oor wat dit beteken om ʼn Christen te wees, nie net in moeilike omstandighede nie, maar ook in die loop van die daaglikse lewe. In een van hierdie geskrifte, "Gemeinsames Leben" (Gemeenskaplike Lewe)skryf hy oor die praktiese uitlewing van ʼn egte Christengemeenskap.

Oor gebed skryf hy dat die mees effektiewe manier van bid gebede is wat aan die hand van die Woord geskied. Sodoende, sê hy, word ons nie vasgevang in ons eie geestelike armoede en behoeftes nie. Gebed behoort dus gekenmerk word deur ʼn afwagting en ʼn bereidheid om die Woord van God te ontvang, en daarvolgens op te tree. Trouens, sê hy, alle gebede wat in lyn is met God se Woord (Laat U wil geskied…),word verhoor, juis omdat hulle deur die Woord van God geïnspireer is.

Waarvoor moet ons dan vra in gebed?  Bid vir leiding en wysheid vir elke dag, vir bewaring teen sonde, vir heiligmaking, vir getrouheid, en vir krag vir ons taak. Die belangrikste is egter dat ons nie deur ons eie behoeftes (ek, my en myne)en versugtinge gelei moet word nie, maar deur dit wat God van ons vra.

Gebed: Ag Here, hoe moeilik is dit nie vir ons om ons eie wil, drome en ambisies prys te gee en om gehoorsaam te wees aan Jesus Christus, die Here van ons Lewe nie! Ons bid, Here, dat U ons harte sal oopmaak vir u Woord, sodat u wil kan geskied, nie net in die hemel en op aarde nie, maar veral in my hart en siel. Amen