Hennie Symington

Ek dink aan die verre verlede, ek peins oor alles wat U gedoen het/en oor die werk van u hande dink ek na. Ek strek my hande uit in gebed na U toe, ek is voor U soos ʼn uitgedorde land. Psalm 143:5-6

Die Britse priester, filosoof en skrywer, Thomas Merton, het op ʼn keer gesê: die wêreld het nie soseer ʼn behoefte aan meer geleerde mense nie, maar eerder aan mense met diepte. Ons het nie ʼn behoefte aan meer dinge om aan te pak of te doen nie; ons het geestelike noodhulp nodig. Dit is ons siele wat honger ly, soveel so dat Carl Jung, een van die groot geeste en sielkundiges van die 20ste eeu, op ʼn keer gesê het dat geloof so ʼn belangrike onderdeel van ons menswees is, dat hy dit moeilik sou vind om mense wat nie gelowig is nie berading te gee.

Wat is op die spyskaart vir die siel?

Meditasie:  Maak tyd om innig met jou siel om te gaan en om jou besig te hou met die “dinge van die Vader”. Begin deur rustig na te dink oor God en die skepping.

Gebed: Gebed is seker die oudste vorm van spirituele of geestelike gebruike en is waarskynlik die mees algemene vorm van geloofsuitdrukking. Die wete dat jy in kontak is ʼn met ʼn mag buite jou, bied geestelike sowel as psigiese vertroosting.

Geestelike literatuur: Bloot deur jou te verdiep in geestelik verrykende leesstof, en om te sien hoe ander omgaan met sekere geloofsvrae en sake, moedig jou aan om jou eie idees te vorm oor hoe jy as ʼn Christen sou optree in sekere situasies.

Tyd in die natuur: Hoewel God nie in die natuur of deel van die natuur is nie (Hy het dit per slot van sake gemaak), kan ons slegs ons hande saamslaan oor die wonder van die skepping en die God wat dit geskep het en hom daarvoor loof en prys.

Geniet ʼn geestelike spyskaart: Wat keer jou om die vrugte van God se Woord te proe en sodoende jou siel te voed met die rykdom van die Woord.

Gebed: Here, leer my dat om my siel te voed, net so belangrik is as om my liggaam te voed. Gee ons dus ons daaglikse brood saam met die hemelse brood wat van U af kom. Amen