Hennie Symington

So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het Hy wat alleen God is, Hy wat die aarde gevorm en gemaak het … Jesaja 45:18

Toe het God gesê:Kom Ons maak die mens as ons verteenwooordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die visse in die see, die voëls in die lug, die mak diere … Genesis 1:26

Toe God die aarde geskape het, het Hy presies geweet vir wie Hy dit geskep het. Hy het dit geskep met die mensdom in gedagte. En nadat Hy die mens na sy beeld geskep het, het Hy sy asem in hulle geblaas, en hulle as sy verteenwoordigers op aarde geplaas.

Die Skepper het selfs verder gegaan; Hy plaas die mens in beheer van die skepping en tree in ʼn verhouding met die mens wat Hy geskep het en nooi hulle uit om die aarde te bewerk en nageslag voort te bring.

Waarom sou God dit gedoen het?

Ons kan nie namens die Skepper praat nie, maar dalk het Hy gehoop dat die mense wat Hy geskep het sy liefde sou beantwoord. Ongelukkig weet ons dat dit nie so uitgewerk het nie. En tot vandag toe, kry die mensdom dit nie reg om Hom alleen lief te hê en Hom as die Skepper te gehoorsaam nie. Tog het Hy nooit opgehou om ons lief te hê nie, net soos wat ʼn ouer nooit ophou om sy kind lief te hê nie.

Baie eeue later sou God die grootste reddingsdaad ooit in die geskiedenis bewerkstellig: Hy stuur naamlik sy Seun om die mens se verhouding met die Vader te herstel. Daarby bied Hy aan ons die ewige lewe ten spyte van ons onvermoë om Hom alleen lief te hê en te dien.

Wat kan ek doen om my verhouding met die Skepper te herstel? Bid dat God ons die gawe van ʼn liefdevolle hart en ʼn gehoorsame gees sal skenk wat ons in staat sal stel om ʼn kanaal vir sy goedheid en genade aan die wêreld te wees.

Gebed: Ons barmhartige en liefdevolle Vader, gee dat ons daarna sal streef om ander lief te hê soos wat U ons liefgehad het vanaf die begin af tot in ewigheid. Kom ons tekortkominge te gemoet. Amen