Hennie Symington

Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde. … Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. Psalm 51:4-6a

Hoe ernstig is ons oor sondebelydenis? Hoe opreg is ons wanneer dit kom by hartgrondige berou oor ons sondes? Soms bely ons ons oortredings met ʼn goedbedoelde apologie en stap dan weg asof niks gebeur het nie.

Is daar ʼn verskil tussen spyt en skuldbelydenis?

Dawid erken ruiterlik: “Ek het gesondig”teen God en mens. Dalk kan spyt beskryf word as: Ek moes dit liewer nie gedoen het nie, want dit het my benadeel, terwyl berou beskryf kan word as ʼn ernstige nadenke oor dit wat jy verkeerd gedoen het met inagneming van die omvang van die pyn en lyding of skade wat jy veroorsaak het, sowel as ʼn ernstige onderneming om nie weer so op te tree nie. Die belangrikste is egter om te besef dat die gevolge van sonde ʼn manier het om uit te kring verder as wat ons ooit voorsien.

Hoe werk belydenis? Stap een is om jou sonde sonder omhaal te bely. In Dawid se geval werp hy hom volkome en sonder omhaal op God se genade. Hy staan nie voor God met bravade om aanspraak te maak op vergifnis nie. Hy beroep hom op God se “troue liefde” en “groot barmhartigheid.” (Psalm 51:1). Ten spyte van sy ernstige oortreding, het hy nie vergeet van God se verbond om diegene wat hulle sonde bely te vergewe nie. Meer nog, hy soek sy redding by God wat hom in Eksodus 34:6 in sy eie woorde beskryf as: “Ek die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.”

Dawid kruip nie weg vir God nadat hy gesondig het nie. Hy vlug na God. Hy verstaan dat sonde God dwars in die krop steek, maar weet dat sy enigste hoop op herstel van God alleen kom.

Gebed: Here, soms is die woordjie “askies” net nie genoeg nie. Leer my om my oortredings vierkantig in die gesig te staar en die skade wat ek aangerig het te erken. Slegs dan, Here, kan ek nuut begin in die lig van u vergifnis. Amen