Hennie Symington

Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid. Psalm 51:3

Van al ons gebede, is gebede om vergifnis seker die pynlikste, nie slegs vir Christene nie maar vir alle mense. Tog loop sondebelydenis en die navolging van Christus hand aan hand. Dit is niks nuuts nie. Geslagte en geslagte Christene besef en verstaan dit, want die eerste gebod wat Christus aan ons gegee het was “Bekeer julle en glo die evangelie.” (Markus 1:15b). En voor dit het geslagte en geslagte hulle beroep op Psalm 51 om hulle te help met skuldbelydenis voor die aangesig van God.

In die inleiding tot Psalm 51, lees ons dat die Psalm geïnspireer is deur Dawid se woorde van diepe berou nadat Natan, die profeet hom gekonfronteer het met die volle aakligheid van sy sonde. Nie net het hy Batseba verlei nie, maar ook haar man laat sterf om sy onderduimse planne in werking te stel. Toe hy egter deur die profeet Natan gekonfronteer is met die Woord van God, het Dawid berou gehad (2 Samuel 12:1-15a). Dit is presies hoe die Here berou in ons harte bewerkstellig. Net soos geloof deur die hoor van God se Woord in ons harte werk, so word vergifnis deur belydenis van sonde bewerkstellig. Belydenis is trouens, onafskeidbaar van geloof.

Gebed: Here, om deur ons sonde gekonfronteer te word, is pynlik en ontstellend. Om ons sonde te bely is helaas die enigste manier waarop ons ons lewens kan herstel. Dankie Here, vir die gawe van vergifnis wanneer ons ons sonde bely. Amen