Hennie Symington

Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir die wat deur hulle woorde tot geloof in my sal kom. Johannes 17:20

ʼn Christengemeenskap wat nie gereeld vir ander en vir mekaar intree in gebed nie, kan nie floreer nie, want in die een wat vergifnis ontvang het, sien ons die een vir wie Christus gesterf het raak. Dietrich Bonhoeffer, die bekende Duiste teoloog stel dit so: "As ons hierdie geloofswaarheid ontken, is daar geen sprake van versoening nie."

As Christene, kan ons nie genoeg bid vir die wêreld waarin ons woon nie. Om vir ander te bid is nie vreemd vir Christene nie. Trouens, ons kindergebedjies het hoofsaaklik bestaan uit: "En Jesus, bewaar my mamma en my pappa, en my ouma en my oupa en my maatjies by die skool"en so meer, en later van tyd, soos wat ons ouer word, het ons geleer om te bid vir die leiers van ons land, die minderbevoorregtes in ons gemeenskap en soms vir oorlog of onrus om op te hou.

Een van die roerendste versoeningsgebede in die Bybel is seker die van Moses waar hy by Tabera intree vir die kinders van Israel (Numeri 11:1-3).Die naam van die plek beteken “om deur vuur verteer te word”. As dit nie was vir Moses se versoeningsgebed nie, sou Israel deur die vlam van God se oordeel oor ʼn volk wat voortdurend gekla het, verteer gewees het. In hierdie episode van die geskiedenis gee Moses ʼn vooruitskouing op die “een Middelaar tussen God en mens, die mens Jesus Christus”(1 Timoteus 2:5).

Hoe verander gebed vir ander ons as gelowiges?

Gebede vir ander baat nie slegs die party vir wie daar gebid word nie; dit help ook die een wat die gebed doen om sy of haar gedagtes weg te keer van die self en om op ander se behoeftes te fokus.

Wat van jou gebedslewe? Het jy al ooit gebid vir die een met wie jy kwaaivriende is? Indien wel, wat was die uitkoms van jou gebed? Het dit jou siening van die persoon verander? Ondersoek jy gereeld jou eie motiewe of optrede met betrekking tot ander? Deursoek jou hart en wees eerlik met jouself.

Gebed: Here, my gebed is meermale gerig op my en dit wat my raak. Hoe klein van ons Here, om slegs in terme van ons eie behoeftes te dink, en hoe groot is u genade wat liefde en genade aan almal bied. Amen