Hennie Symington

U luister na my stem in die more, Here in die more terwyl ek voor U verskyn en op U wag. Psalm 5:2-3

Ek onthou nog dat my ouma, ʼn baie vroom en godvresende vrou (soos die meeste van ons oumas), nooit ʼn voet op die grond gesit het in die oggend as sy wakker geword het voordat sy nie haar oggendgebed gedoen het nie. Vir moderne gelowiges mag dit snaaks klink; selfs om langs jou bed te kniel in gebed word deur sommige beskou as ietwat ouderwets of onnodig. Tog herinner die Skrif ons talle keer daaraan dat gelowige manne en vroue, vroeg in die oggend opgestaan het om te vra na God se wil vir die dag en om hulle optrede te rig en te lei.

Die ou gesegde, “oggendstond het goud in die mond” is veral van toepassing wanneer dit gaan oor gebed. Vir gelowiges behoort die dagbreek nie belas te word met bekommernisse oor die dag wat voorlê nie, want op die drumpel van die dag, staan die Here wat dit gemaak het. In Genesis 19:27 sowel as in Eksodus 24:4b lees ons dat Moses dou voor dag die volgende oggend opgestaan het en ʼn altaar aan die voet van die berg met twaalf klippilare wat die twaalf stamme van Israel verteenwoordig, gebou het.

Die van ons wat ʼn vaste gewoonte van ʼn oggendgebed gemaak het, kan getuig dat daar iets besonders is aan daardie stille oggendure in gebed voordat die wêreld ontwaak en jy in stilte met God kan praat. Dit is tydens hierdie stiltetye wat ons ons krag vir die dag vind. Om jou hart uit te praat voor God en jou vrae en probleme en versoeke aan God te rig, gebeur in daardie alleentye met God. As Dawid, wat die koning van Israel was, tyd saam met God in die oggend kon deurbring, wat keer ons as God se kinders om dieselfde te doen?

Gebed: Here, vergewe my dat ek dikwels nalaat om U soggens te groet in gebed en om U te dank vir nog ʼn dag wat toegevoeg is tot my lewe en alles wat U my uit liefde en genade geskenk het. Amen