Hennie Symington

Ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! Psalm 57:97

… daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke more nuut. Klaagliedere 3:22-23

Die Woord leer ons dat ons eerste gedagte en woord van die dag God toekom. "U luister na my stem in die more, Here, in die more terwyl ek voor U verskyn en op U wag",lees ons inPsalm 5:4.Die hartseer is dat in hierdie tegnologiese eeu waar die onderskeid tussen lig en donker, dag en nag op jou bevel geskied, is dit waarskynlik jou selfoon wat die eerste sê het. In die proses het ons die hartklop van ons gebedstye deur die loop van die dag prysgegee. Tog behoort die “oggendstond, goud in die mond” te wees wanneer ons die Een wat dag en nag daargestel het, ontmoet.

As ons so deur die Woord blaai, dan is ons verstom oor die talle kere wat manne en vroue God se aangesig vroeg in die oggend opgesoek het om vas te stel wat hulle opdrag vir die dag is. Dit hoef nie ʼn geheime versugting van die hart te wees nie; stel jou mobiele toestel (selfoon) op “silent” voor jy ʼn voet op die grond sit, sodat jy kan leer om jou oggendgebed te doen voordat jy die “antwoord-sleutel” op jou selfoon druk. Is dit te veel gevra?

Gebed om jou dag te begin: Here, gee dat ek die dag in die stilte van die oggend kan groet en dit aan u voete sal lê. Wys my hoe om alles wat vandag op my pad kom met vrede en met die vaste vertroue dat u wil sal geskied, te hanteer. Herinner my Here, dat U my ingang en my uitgang bewaar. Gee my die insig om met wysheid op te tree, sonder om ander te na te kom of in die verleentheid te stel. Gee my krag vir vandag en vir alles wat moontlik oor my pad kan kom. Rig my optrede, en mag u wil regdeur die dag my riglyn wees. Amen