Hennie Symington

… en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart en tot eer van die Here.  Efesiërs 5:19

Die Nederlanders het gesegde wat lui: “Slechte mense zingen niet.” Of dit waar is weet ek nie, maar Christene sing graag ondermekaar. Miskien is dit omdat geestelike liedere ons in staat stel om gelyktydig te praat en te bid. En as ons sing, word ons gedagtes saamgevat in die gesang en ʼn wysie wat stellig die betekenis van die woorde van die lied komplimenteer.

Maar waarom dan sing as ons bloot die woorde kan voorlees? Dalk omdat woorde alleen nie ons diepste sugte en behoeftes kan uitdruk nie. Die boodskap word inderdaad op die “wieke” van die lied gedra. Ons sing graag prysliedere, dankliedere, belydenisse, en gebede. Terselfdtyd, dien die musiek as die draer van die Woord. Dus behoort alle gewyde liedere gerig te wees op die Woord, en veral op die gesange, koorliedere en aanbidingsliedere wat in die Bybel aan ons nagelaat is.

Die diep geestelike waarde van liedere, gesange en koorliedere wat ons deur die jare uit verskeie tradisies en tale ontvang het, kan nie oorbeklemtoon word nie. Daar is egter een lied wat deur tallose Christene regoor die wêreld, deur baie jare gesing word en dit is Jesus min my, salig lot. Ek self onthou nog stukkies van die lied in ʼn Afrikataal wat baie jare gelede deur sendelinge uit Nyasaland (vandag Malawi) aan my geleer is in ʼn klein skooltjie in Zimbabwe – voorwaar ʼn kosbare herinnering.

Gebed: Here, ons dank U vir die gawe van sang, musiek en ritme wat ons in staat stel om U te loof met liggaam, siel en gees. Amen