Hennie Symington

Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ʼn stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.  Matteus 6:7-8

Gebed is ʼn gawe van God wat ons in staat stel om vanuit die alledaagse na ʼn sakrale ruimte te beweeg waar God en mens kan ontmoet om iets van die eenheid tussen ʼn vader en sy kind te ervaar. Dit is ʼn plek waar God met jou soos sy kind kan praat en waar jy as sy kind jou diepste gedagtes en mees geheime plekke van die hart met hom kan deel.

Gebed is ʼn tweerigtinggesprek waar die een wat bid sy of haar diepste gedagtes en sake van die hart voor God kan lê.

Gebed is ons alternatiewe taal. Die taal van gebed is bedoel om so intiem deel van ons gedagtes te wees dat ons nie altyd bewus is waar gebed begin of eindig nie.

Wanneer ons bid, betree ons ʼn virtuele heilige ruimte. Daar is geen nodigheid om God te gaan soek in sogenaamde heilige plekke, op bergtoppe of in die woestyn nie. Jy sal God vind, waar jy hom ookal aanroep. God is net so teenwoordig en toeganklik in die geroesmoes van ons alledaagse lewe as wat Hy is in heilige ruimtes, tempels, kerke of bergtoppe waar ons hom graag wil gaan soek. Al wat jy hoef te doen is om tyd in jou “ingang en jou uitgang” met God deur te bring.

Gebed: Here, ons moet erken, in die tye waarin ons leef, is dit vir ons belangriker om die liggaam as ons tempel te beskou, eerder as ons eie siel. Gee dat ons U nie wil gaan soek in vreemde of uitheemse plekke nie, want U is die naaste aan ons ‒ binne ons eie siel. Amen