Hennie Symington

Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na u soos in ʼn dors en droë land, ʼn land sonder water. … As ek aan U dink op my bed oor U peins in die nag, dan weet ek: U is vir my 'n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels. Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my.  Psalm 63:2-3, 7-9

Sit ʼn dag opsy vir jou siel.

Soek ʼn stil plekkie waar jy rustig met God kan verkeer. Begin jou stiltetyd deur God te vra om jou gedagtes te rig. Lees die Bybelverse wat volg rustig deur terwyl jy elkeen in jou gedagtes oordink totdat jy die Woord kan proe. Moenie probeer om die vers te ontleed nie.

Haal dan diep asem en visualiseer jou hart as ʼn plek waar God woon en herhaal die volgende Skrifgedeeltes:

"Ek sal julle ʼn nuwe hart en ʼn nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ʼn hart van vleis gee."(Esegiël 36:26)

Stel jou in op die Skrifgdeelte en laat God toe om jou te te vertroos: "Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses." (Psalm 34:19)

Wanneer jy gereed is, lees die volgende skrifgedeeltes hardop: "Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My…" (Johannes 14:1)

Bid dat God jou hart sal oopstel sodat jy sy guns en goedheid kan proe. Wanneer jy gereed is lees: Lukas 6:45: "Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor."

Bewaar hierdie woorde in jou hart dwarsdeur die dag terwyl jy besig is met jou daaglikse take. En as jy die tyd of energie het aan die einde van die dag, skryf jou gedagtes oor die Skrifgedeeltes wat jy oordink het neer, of herhaal hullle voordat jy gaan slaap. Maak hierdie oomblike van gewydheid deel van jou roetine. Mettertyd sal jy verstom wees oor die waarde van jou gereelde stiltetyd met God.

Gebed: Here, help my. Ek het ʼn vreemdeling vir my eie siel geword tussen die roesemoes van klank, aktiwiteit, stres en bekommernis. Leer my om te wag op u woord deur elke dag aktief daarmee besig te wees. Amen