Deur Benescke Janse Van Rensburg

[Dit is altyd moeilik om ’n reeks oor geloof af te sluit omdat daar nog soveel aspekte daarvan is wat aangeraak kan word. Tog, baie dankie aan elke leser wat terugvoer gegee het en saamgesels het gedurende die reeks. Dit bly ’n groot inspirasie om te hoor hoe God in elkeen se lewens besig is. Stuur gerus jou terugvoer oor die reeks na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.]

My 5-jarige dogtertjie het onlangs geleer om sonder haar fiets se kantwiele te ry. Vir my was dit ’n knop-in-die-keel trotse gevoel om te sien hoe sy opgewonde trap – en regop bly. Natuurlik was daar aanvanklik daardie oomblikke wat die fiets wou omval. Gelukkig was ek dan naby genoeg om haar te vang en regop te help – en selfs met ’n stoot van agter weer met nuwe momentum te laat trap.

In ons geloofslewe is dit dieselfde. Aanvanklik neem dit waagmoed om die gemaksone van “kantwiele” agter te laat en God volkome te vertrou. Ek meen, wat as ons ’n klip tref en ons balans verloor? Wat as ons omval? Geloof is egter om vooraf te glo dat God dáár sal wees om ons regop te hou. Meer nog, dat Hy in daardie omval-oomblikke naby genoeg aan ons is, om ons met daardie stoot van agter, weer met nuwe momentum laat trap.

Is daar ’n area in jou lewe waarin jy weet jy God met nuwe ywer moet vertrou? Luister weer na die woorde in Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Ook in 2 Korintiërs 12:9 sê God aan Paulus: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Mag ons elkeen nuwe lewe in ons geloof blaas. Kom ons klim met selfvertroue op ons “fietse” terwyl ons trap met mening. Hy is immers dáár om ons te ondersteun en versterk. Sterkte!

Vader God, baie dankie dat ek met U mag gesels. Ek wil vandag op die “geloofsfiets” klim. Help my asseblief om U meer te vertrou (noem die area waarin jy God meer moet vertrou). Versterk my asseblief in my swakheid deur u Heilige Gees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gee terugvoer oor die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..