Deur Benescke Janse van Rensburg

Een van die lesers skryf vroeër aan my: “Benescke, ek voel die laaste ruk of ek vêr van die Here af is. Soms voel dit selfs of ek al vêrder van Hom af wegbeweeg. Wat kan ek doen om weer nader aan Hom te kom?”

’n Tydjie gelede hoor ek van ’n gesin wat vroegoggend wakker geskrik het weens die rookalarm in hul huis. Die pa het opgespring en met sy 1-jarige dogtertjie in sy arms en die 4-jarige seuntjie aan die hand, na die voordeur begin beweeg. Die rook was reeds baie dig in die huis. Die 4-jarige het losgebreek en vooruit gehardloop. Alhoewel die pa aangeneem het dat die seuntjie buitentoe is, het dié na sy kamer gehardloop en tussen sy speelgoed gaan wegkruip waar hy gedink het dat hy veilig sou wees. 

Buite gekom het die ouers geskok besef dat hul kind nie daar is nie. Toe hul opkyk, het die seuntjie se verskrikte gesiggie uit sy kamervenster na hulle geloer. Die pa het onder die kamervenster gaan staan en hard geroep: “Spring af, my seun.” Tussen die trane deur het hy geantwoord: “Maar Pappa, ek kan jou nie sien nie.” Die pa het teruggeroep: “Dis ok, my kind. Ek kan jou sien!” Die seuntjie het gespring en veilig in sy pa se arms beland. 

Soms beleef ons ook “rookagtige seisoene” in ons lewens. In dié tye voel ons vêr van God af. Ons voel asof ons Hom nie sien of hoor nie en selfs soos bogenoemde leser, asof ons al vêrder van Hom af wegbeweeg ten spyte van ons begeerte om Hom beter te leer ken. In dié tye moet ons onsself herinner dat Hy ’n verhouding met ons elkeen begeer. In Jakobus 4:8 lees ons: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” Ook in Hebreërs 11:6 staan geskryf: “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”

Hoe beweeg ons nader aan God? Hier is vyf maklike stappe: Stap 1: Neem die besluit. Stap 2:  Begin om in geloof daagliks met God praat. Gesels met Hom oor dinge wat pla, maar ook dinge wat jou opgewonde maak. Stap 3: God wil ook met ons terugpraat, so maak tyd om te luister. Die doel is ’n gesprek. Skryf dus gerus neer wat jy hoor. Stap 4: Begin om die Woord van God te lees. In Romeine 10:17 lees ons dat ons geloof groei wanneer ons die Woord lees. Só ontdek ons God se karakter en ons leer ken ook sy stem. Só kan ons weet of dit God is wat met ons praat of nie. Stap 5: Geniet dit. ’n Verhouding met God is die grootste vreugde in die lewe – dit is immers waarvoor ons geskep is.

Kom ons “spring” soos die seuntjie uit die kamervenster deur in geloof na God te nader. Soos die pa langs die brandende huis, staan God ook gereed om ons te vang. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my lief het net soos ek is. Ek begeer om in ’n verhouding met U te groei. Ek begeer om u stem beter te leer ken. Open my oë om U te sien en ook my ore om u stem duideliker te hoor. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gee terugvoer oor die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke