Deur Benescke Janse van Rensburg

Gister was dit Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik. Gedurende ons radio-program het ons luisteraars uitgenooi om getuienisse te deel van hul eie of familielede se vrymaking van ’n verslawing. ’n Ma het hierdie kragtige boodskap met ons gedeel: “My seuns het vir jare gesukkel met ’n dwelmafhanklikheid. In dié tyd het ek heeltyd gebid dat God hul sou verander. Dit is egter eers toe ek begin bid dat God my sal verander en my sal vul met wysheid en insig om te weet hoe om hul te ondersteun, dat ek beleef het hoe hul lewens begin verander het.” Vandag is beide haar seuns vry van dwelms.

In ons eie lewens ervaar ons soms dinge wat ons frustreer. Dit kan jou huweliksmaat wees wat te veel geld uitgee, ’n rebelse tiener wat jou lewe moeilik maak, ’n ongenadige bestuurder in die werkplek, ’n skoonma wat jou teen die mure uitdryf of selfs ’n buurvrou met geen grense vir jou privaatheid nie. Ons eerste reaksie is gewoonlik om by God te kla en te bid dat Hy die “ander persoon of situasie” sal verander – in stede daarvan om te bid dat Hy ons met wysheid en insig vul om die situasie beter te hanteer.

In Jakobus 1:5 lees ons: As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Ook in Jakobus 3:17-18 lees ons: “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God . . .”

In watter area van jou lewe ervaar jy frustrasie vandag? Het jy God al gevra om jou ingesteldheid te verander en jou deur sy Heilige Gees met wysheid en insig te vul om te weet hoe om in die situasie op te tree? Nie net mag ons met nuwe oë na daardie “persoon of situasie” begin kyk nie. Ons mag dalk self vir die eerste keer waarlik ’n verandering begin beleef. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek U kan vra om my met wysheid te vul ten opsigte van (noem die situasie). Lei my asseblief deur u Heilige Gees dat ek met ander oë na die persoon/situasie sal kyk. Vul ook asseblief my hart met verdraagsaamheid, vrede en liefde teenoor daardie persoon/situasie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gesels saam en gee terugvoer oor die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke