Deur Benescke Janse van Rensburg

Gisteroggend was die nuusopskrif op een van die nuuswebwerwe: “Drie pa’s oor die afgelope naweek in aanvalle vermoor.” Hierdie opskrif ontlok onmiddellik een van twee emosies: Een, vrees. Ons vrees vir ons eie en ook ons geliefdes se veiligheid. Of twee, geloof. Alhoewel ons die realiteit van die gebeure besef, kies ons om te onthou dat ons in ’n gebroke wêreld leef, maar dat God in beheer bly. Hier is ’n getuienis van hoe ’n egpaar vrede te midde van ’n storm beleef het: 

In Februarie verlede jaar is die 60-jarige Lourie van der Merwe, ’n landbou-adviseur en voormalige pastoor en sy vrou Celia (ook 60 jaar oud) in die vroeë oggendure in hul huis op Marquard in die Vrystaat oorval. Lourie is met ’n jagmes in die bors gesteek en Celia in die gesig. Hierna is hul vir bykans ’n uur in die huis aangehou met dreigemente dat hul vermoor gaan word. Chemikalieë en brandstof is oor Lourie uitgegooi en die aanvaller het probeer om hom aan die brand te steek. Die vuurhoutjies was egter te nat na die reën. In ’n stadium kon Celia ontsnap en hulp ontbied, wat hul lewens gespaar het.

Hierdie storie het my geruk. Twee onskuldige bejaardes in die veiligheid van hul huis oorval. Wat my egter geïnspireer het, is Lourie se woorde in ’n kort video wat enkele dae ná die aanval in die hospitaal opgeneem is. Hy sê: “Ek het gevra, ‘Hoekom Here? Hoekom het dit gebeur?’ Die Here het vir my gewys dat die aanvaller op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was, maar dat God ook dáár was. . . Kom ons kies om vir God dankie te sê en nie toe te laat dat die vyand haat en bitterheid in ons harte plaas nie. . .” Reeds in die hospitaal, het hierdie egpaar gekies om te vergewe en vry te spreek.

Die storie het my laat dink aan geloof. Geloof is om te vergewe en vry te spreek omdat ons glo dat God die finale oordeel fel. Geloof is om te midde van vreesagtige situasies ons oë op God te hou, omdat ons glo dat niks Hom ooit onkant betrap nie. En geloof is om God se vrede te ervaar – te midde van situasies waar vrees en vrae dreig om ons te oorweldig omdat ons glo dat Jesus die vyand reeds oorwin het en dat Hy ons in staat stel om dieselfde te doen.

In 1 Petrus 5:7 lees ons: Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” In Filippense 4:6-7 word ons herinner dat die vrede wat alle verstand te bowe gaan oor ons harte en gedagtes die wag hou wanneer ons, ons harte voor God uitstort. En in Eksodus 14 lees ons dat die Israeliete vreesbevange na God uitroep met die see voor hulle en die Egiptenare wat van agter af dreig om hulle te verswelg. Luister na Moses se reaksie op hierdie vrees: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red . . .  Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg” (Eksodus 14:13-14).

Gisteroggend het ek met Celia gesels. Dis nou 1 jaar en 4 maande later. Wat my diep geraak het, is hoe sy getuig dat God hul deur die verwerking van hierdie trauma gedra het. Ook dat daar talle goeie dinge na vore gekom het. As sy terugdink aan die skriknag in Februarie 2017, getuig sy dat God dáár was – dat Sy vrede haar hart onverklaarbaar gevul het.

Kom ons kies vandag geloof bó vrees. Kom ons kies om ons oë op God te hou en kalm te onthou dat Hy namens ons veg. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek my hart voor U mag uitstort en al my bekommernisse op U mag werp. Help my asseblief om U vrede in my storm te ervaar. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.