Deur Benescke Janse van Rensburg

Na verlede Vrydag se getuienis, het ’n ontstelde leser vir my geskryf: “Ons word geleer dat ons moet glo as ons bid en voila dan is dit so. Tog, ek het gebid vir my kind se veiligheid en toe word hy deur ’n buffel doodgemaak! Ek is van mening die kerk leer ons verkeerd!” Voel jy dalk ook só – ontnugter en hartseer omdat iets in jou lewe uitgewerk het as waarop jy gehoop het?

Vir meer as ’n dekade reeds, het ek die voorreg om getuienisse te dokumenteer. Mense se stories wat eintlik op ’n manier God se stories is. Van die stories het fantastiese eindes – verhoudings wat herstel is, huwelike wat gered is, siekes wat genees is, finansies wat herstel is. Tog, aan die ander kant, is daar stories met ’n aanvanklike seer einde – ouers wat hul kinders moes begrawe, huwelike wat steeds ten spyte van geloof in egskeiding geëindig het, families wat steeds bankrot verklaar is.

Ek sê “aanvanklik” ’n seer einde, want keer op keer het ek al verstom gestaan oor hoe God in staat is om iets sleg in iets mooi om te draai en hoe Hy Homself – juis in die seer seisoene – aan ons kom openbaar.  

’n Jarelange droom van my is verlede week bewaarheid toe ons ’n televisiereeks, God is dáár, met ware mensestories vir die platform, RoepTV.com verfilm het. Wat hierdie reeks uniek maak, is dat ons in elke episode twee kontrasterende stories vertel – een met ’n deurbraak en een met ’n aanvanklike seer einde – byvoorbeeld ’n kind wat genees is teenoor ’n kind wat verdrink het. ’n Verhouding met ’n ouer wat herstel is teenoor ’n verhouding met ’n ouer wat steeds (na jare se gebed) nie herstel is nie. ’n Vrou wat na meer as ’n dekade swanger geword het teenoor ’n gesin wat nooit swanger kon word nie. Ons wou die realiteit van die lewe openbaar.

Wat vir my amper meer kragtig as die deurbraakstories is, is hoe die gaste met ’n seer einde almal kon getuig dat God dáár is, dat Hy hulle gedra het (en steeds dra), dat Hy sy karakter op ’n nuwe manier aan hul kom openbaar. Is dit maklik? Verseker nie. Is daar trane? Gereeld. Tog, het dit aan die hart geruk wanneer hul met opregtheid kan sê dat God steeds goed is.

In Jesaja 55:8-9 lees ons God se woorde: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.”

So aan bogenoemde leser (en elke ander wat homself of haarself in ’n soortgelyke situasie bevind): My hart gaan uit na jou. Ek sal nooit al jou emosies kan verstaan wat jy beleef nie, maar een ding wat ek weet, is dat God dáár is. Hy verstaan. Stort jou hart voor Hom uit en ek kan jou verseker dat Hy jou hart sal rustig maak. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat selfs al verstaan ek nie hoekom dinge in my lewe gebeur nie, U steeds dáár is. Help my asseblief om my oë op U te hou terwyl U my hart met geloof vul – wetend dat U selfs die seerste situasie in iets goed kan omdraai. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.