Deur Benescke Janse van Rensburg

Agtergrond: Saaiboere weet dat gewasse voor 15 Desember jaarliks in die grond moet wees om te verhoed dat die winterkoue dit vernietig. In 2016 moes Pieter Keyter, ’n Vrystaatse boer, egter ’n stap van geloof neem - wat sy hele plaas kon kos. Hier is sy getuienis:

Pieter: “Aan die einde van April 2016 het ek vroegoggend (03:30) in my bakkie tussen my landerye gesit. My hart het vinnig geklop terwyl dit gevoel het of my keel wil toetrek. Op die bakkie se termometer was dit reeds 0°C en ek kon sien hoe yskristalle tussen die mielies vorm. Díe ryp kon my hele mielie-oes vernietig – wat ek in geloof geplant het.

In November daardie vorige jaar het ek ’n kontrak vir die lewering van mielies geteken. Die prys was goed. Dit het egter nie weer onmiddellik daarna gereën nie. Twintig dae later, op 10 Desember, het ek probeer om uit die kontrak te kom omdat ons nie mielies sou kon plant sonder reën nie. Geskok moes ek verneem dat dit my ’n astronomiese bedrag sou kos om uit die kontrak te kom. Voeg hierby dat ek vir ’n jaar geen inkomste sou hê nie en steeds my mense moes betaal. In my binnekamer, op my knieë voor God, het ek vir ’n uitkoms gesmeek. Ek het regtig nie geweet wat om te doen nie.

Die enigste teksvers wat na vore gekom het, is Hebreërs 6:7 – spesifiek uit die Engelse Message-vertaling: “Parched ground soaks up the rain and then produces an abundance of carrots and corn for its gardener gets God’s ‘Well Done’!” Enigiemand wat boerdery verstaan, sal weet dat dit ’n stap van geloof sou kos om te plant buite plantseisoen.

Ten spyte van my vriende se waarskuwings dat ek dwaas is, het ek nadat dit op 12 Januarie begin reën het dadelik begin plant. Teen 5 Februarie was die mielies en sonneblomme als in die grond.

Waar ek op 29 April 2016 in die landerye gesit het, het die trane oor my wange gestroom. Al wat ek kon vra is: ‘Vader, het ek verkeerd gehoor? Ek was dan oortuig dat U my lei om mielies te plant. Wat gaan ek doen as ek alles verloor?’ Teen 05:00 daardie oggend is ek mismoedig terug huis toe. ’n Uur of wat later het iemand (wat niks geweet het van my gesprek met God in die landerye nie), vir my ’n WhatsApp-boodskap gestuur met die woorde in Psalm 112:7: Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die HERE.” Daardie oggend het ek besluit om my geloof in God te plaas en nie verder slegte tyding te vrees nie.

God het ingegryp en ’n wonderwerk gedoen. Nie net het die ryp van daardie nag slegs die boonste blare geskroei nie en geen impak op die oes gehad nie; dit was ook in 50 jaar op die plaas die grootste mielie-oes. Die aanvraag was hoog en ons was die enigste boere met mielies in die omgewing wat ons inkomste bykans vier keer meer as gewoonlik gemaak het. Alle eer aan God!”

Pieter is reg. ’n Stap van geloof is gewoonlik uitdagend, maar juis in die tye van vrees en bekommernis, kan ons onsself herinner aan die woorde in Psalm 112:7. Kom ons kies vandag om nie langer slegte tyding te vrees nie, maar doelbewus te ons hart vol vertroue op God te plaas. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U ons in moeilike situasies wil lei – en dat U ook ons geloof eer. Help my asseblief om in gehoorsaamheid te doen wat U in my hart plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien fotos van Pieter in sy mielie-landerye by www.benescke.co.za Of op die sosiale media, Fbook se bladsy, Stories van hoop.