Deur Benescke Janse van Rensburg

Ná gister se gedeelte oor die “afgooi van saadbolle” oor “woestynareas” in ons lewens deur in geloof oor sake te bid omdat ons glo dat God ’n woestyn in ’n oesland kan omskep, het verskeie lesers my met hul stories geïnspireer.

’n Oumagrootjie getuig hoe sy en haar man vir haar agterkleinkinders se toekomstige huweliksmaats bid. Sy sê dat alhoewel sy heel moontlik nie eendag op hul troudag sal wees nie (omdat die agterkleinkinders nog baie klein is), glo sy dat God haar gebede hoor – en sal verhoor deur hul huwelike te seën. Nog ’n mamma, wat in dié stadium kleuters in die huis het, getuig dat sy reeds bid dat God haar verhouding met haar kinders gedurende hul tienerjare sal beskerm en seën. En ’n derde leser sê dat hy bid dat God hom ’n goeie man vir sy vrou sal maak en dat Hy hul huwelik sal seën – alhoewel hy in die stadium steeds wag om die regte vrou te ontmoet.

In al bogenoemde gevalle, bid die lesers gebede van geloof omdat hul glo dat God dit hoor en kan verhoor.

Sint Augustinus het eens gesê: “Geloof is om te glo wat ons nie sien nie; en die beloning van hierdie geloof is om te sien wat ons glo.” Die Hebreërs-skrywer sluit hierby aan in Hebreërs 11:1: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” En ’n Hebreërs 11:6 lees ons: “As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”

Ware geloof is om ons harte oor die verlede, hede en toekoms voor God uit te stort, omdat ons weet dat Hy nooit sluimer of slaap nie. Ons doen dit ook omdat ons glo dat Hy ons gebede sal eer – selfs nadat ons gesterf het. Hy is almagtig. Kom ons prys Hom daarvoor. Sterkte.  

Vader God, baie dankie dat U die heelal en ook my lewe in U hande vashou. Dankie, dat ek kan weet dat U elke gebed wat ons bid hoor – en op U tyd kan verhoor. Ek wil vandag spesifiek bid oor (noem wat jy op die hart het). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.