Deur Benescke Janse van Rensburg

Al ooit gehoor van herbebossing deur die gebruik van saadbolle? Dít is reeds suksesvol gedoen oor dele van die Saharawoestyn, in Thailand en selfs in die Amasone.

Die saadbolle word gevorm deur klei (verkieslik rooi vulkaniese klei) in ’n bol te rol met ’n verskeidenheid van sade en kompos binne-in. Hierdie bolle word dan vanuit ’n vliegtuig oor ’n area gegooi wat weens oorstroming, natuurrampe of oormatige menslike ontbossing woestynagtig geraak het. Wat merkwaardig is, is om te sien hoe die bolle, wat met tye lank in die grond lê, met die regte omstandighede (sonskyn en reën) op die regte tyd kan ontkiem en ’n oes kan opbring.

In ons eie lewens is daar soms daardie woestynagtige areas. Deur ons gebede is ons besig om saad te saai. Soms ontkiem hierdie saad dadelik en ons sien die vrug daarvan. Ander neem tyd.

In Prediker 11:6 word ons egter aangemoedig om aan te hou saai: Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal 'n oes lewer nie en of altwee ewe goed sal wees nie.”  InGalasiërs 6:7b lees ons: Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes.” En in 1 Korintiërs 3:7 staan geskryf: Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.”

Is daar ’n area ’n jou lewe wat woestynagtig voel? Jou gesondheid, finansies, verhoudings, werksomgewing of dalk jou drome? Wat doen ons daaraan? Raak ons negatief of bid ons, vas ons en gesels ons met God daaroor omdat ons glo dat Hy in beheer van ons lewens bly?

Die vurige gebed van ’n regverdige dra krag. Mag ons onsself herinner dat wanneer ons in geloof bid, ons besig is om saam met God saadbolle oor daardie area af te gooi grond toe. Op die regte tyd – met die regte klimaat – sal dit ontkiem en die oes mag ons totaal verras. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U van elke “saadbol” weet wat ek saai en plant. Help my asseblief om U genoeg te vertrou dat U dit sal ontkiem op die regte tyd wat U daarvoor bestem het. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.