Deur Benescke Janse van Rensburg

Stan Jerling, ’n 74-jarige afgetrede boer van Hennenman, wat deesdae herstelwerk aan windpompe doen en boorgate skoonmaak, het verlede jaar die opdrag gekry om ’n windpomp op Vanderbijlpark af te takel en te herstel. Dit sou ’n groot werk wees wat swaar masjinerie benodig. Aangesien hy ook ’n sleepwaentjie sleep met sy eie swaar toerusting, sou hy twee keer heen en weer moes ry. Dit het sy vrou, Dirkie bekommerd gemaak.

In aanloop tot die projek, het Dirkie (ook 74 jaar oud), een aand in die bed gelê en bid en dink aan die projek. Daar moes volgens haar ’n manier wees om die projek te vereenvoudig. Hiér het sy ’n plan gekry. Die volgende oggend het sy ’n tekening van haar patent vir haar man gewys. Hy het instinktief geweet dat dit sou werk. Die aftakelingsinstrument het só goed gewerk dat dit vanjaar by die Nampo-oesdag met die eerste prys in haar kategorie gekroon is!

Soms bevind ons onsself soos die Jerlings van Hennenman in daardie “ongerieflike situasies” – dit kan in die werkplek wees, ten opsigte van ’n rebelse tiener, selfs rondom die hantering van konflik in ’n huwelik, ’n gesondheidsuitdaging of die hantering van persoonlike finansies. Ons weet gewoonlik dat daar ’n “makliker manier” moet wees om hierdie uitdagings te hanteer, alhoewel ons dit nog nie ken nie.

Wat belangrik is in hierdie situasies is dat ons onsself gereeld sal herinner dat ons God vir daardie “makliker maniere” kan raadpleeg. In Jeremia 43:19 sê Hy immers: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen. . .  Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.” Hy kan vir ons ’n pad maak waar dit onmoontlik lyk. In Matteus 7:7-8 herinner Jesus ons daaraan dat ons daarvoor moet vra: Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” En in Jakobus 1:5 lees ons: As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee . . .

Wat is daardie “ongemaklike situasie” vandag in jou lewe? Kom ons herinner onsself dat God, die Bron van Wysheid graag aan ons ’n uitkoms wil gee. Hy het ’n 74-jarige bejaarde vrou van Hennenman gelei om ’n nuwe patent in landbou uit te dink (wat haar ’n pryswenner gemaak het). Hy kan dieselfde vir ons doen wat Hom vir daardie “makliker manier” vertrou. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U die bron van kennis, kreatiwiteit en wysheid is. Help my asseblief vandag met (noem die area waarin jy wysheid benodig). Versterk my asseblief met geloof om te doen wat U deur u Heilige Gees in my hart kom plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.