Benescke Janse van Rensburg

In aanloop tot Vadersdag gister het my 5-jarige een behoefte gehad: Sy wou vir pappa ’n koek bak. Nie enige koek nie, ’n reënboog koek! Dit beteken vier lae koeke bo-op mekaar met versiersuiker tussen-in en ook bo-oor alles.

Enige iemand wat al saam met ’n 5-jarige en 3-jarige koek gebak het, sal saamstem dat dit ’n redelike uitdaging kan wees omdat hulle glo dat hulle elke nou en dan uit die bak moet proe om te “verseker” dat die eindproduk lekker gaan smaak.

Met die aanvang van die versierproses van die koek, het ek besluit om ’n blik bruin karamel oop te maak wat saam met die versiersuiker tussen die lae koek gesmeer kan word – dit is my absolute gunsteling. My kinders, wat nog nooit die karamel geproe het nie, het die bruin karamel een kyk gegee, hul neuse opgetrek en geweier om daaraan te proe, want “dit lyk nie lekker nie”.

’n Stap van geloof in ons eie lewens “lyk” aanvanklik ook “nie lekker nie” omdat dit met risiko en onsekerheid gepaard gaan. Dit vereis iets van ons – amper soos Petrus wat uit die boot moes klim, voordat hy op die water na Jesus kon stap. Om die deurbraak of wonderwerk te beleef vereis dat ons “ons vinger in die karamel moet druk om te proe”.

In Psalm 34:9 skryf die Psalmdigter: “Smaak en sien dat die HERE goed is...” Die Engelse vertaling lei: Taste and see that the Lord is good. . .” En in die Bybel vir almal-vertaling lees ons: “Julle moet self voel en sien dat die Here goed is.”

Wanneer ons ’n stap van geloof neem, voel en sien ons iets van God se karakter. Ons “proe” ’n kant daarvan wat ons voorheen nie geken het nie. En terwyl ek gister na my twee kinders kyk, wat vroeër hul neuse vir die karamel opgetrek het, wat smul aan die koek vol karamel (en nie besef dat dit daarop is nie), het ek weereens besef op hoe baie ons uitmis as ons te bang is om God vir sy beste te vertrou! Sterkte.  

Vader God, ek wil U goedheid smaak en sien in my lewe. Help my asseblief in tye van onsekerheid en vul my met geloof en vertroue in U. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van die reenboogkoek (met karamel) op www.benescke.co.za of die Stories van Hoop bladsy op Facebook.

Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke