Benescke Janse van Rensburg

Die trompet het geblaas en die nasie het gebuig – insluitende die koning en al die leiers van die land. Net drie mans het bly staan. Sadrag, Mesag en Abednego. Dít het die koning woedend gemaak. Hy het die drie mans ingeroep. Hulle moes ’n verhouding gehad het, want dit was hy wat hulle as administrateurs van die provinsie, Babel, aangestel het.

Ek wonder wat deur die drie mans se koppe gegaan het waar hulle voor die koning gaan staan het. Was hulle bang? Of juis gevul met waagmoed? Hulle het immers geweet dat hulle optrede hulle hul lewens kon kos. Die koning se bevel was duidelik: “Buig voor die goue beeld of jy word in ’n brandende vuuroond gegooi.” 

Ons lees in Daniel 3:15 dat die koning vir oulaas vir hulle ’n kans gee om te buig voor sy beeld om die vuuroond vry te spring. In Daniel 3:16-18 antwoord hul egter: “Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

Hoe diep strek ons geloof in God? Is dit daar solank ons die deurbraak kry waarop ons vertrou? Is dit daar wanneer ’n huwelik steeds in egskeiding eindig waarvoor ons intens gebid het? Of wanneer ’n kind sterf en nie genees word nie? Of wanneer ons ten spyte van ons gebede steeds ons huis of werk verloor?

Sadrag, Mesag en Abednego is in ’n vuuroond gegooi wat sewe keer warmer gemaak is. Die mans wat hul ingegooi het, het selfs almal gesterf. Binne die oond het nie eens ’n haar op hierdie mans se koppe geskroei nie. Hoekom? Omdat hul geloof in God gehad het kom wat wou. Hiervoor het God hul geëer. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u goedheid in my lewe. Versterk asseblief my geloof – veral in tye wat die gevoel van magteloosheid dreig om my te oorweldig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke