Benescke Janse van Rensburg

In die Sinaiwoestyn was die Israeliete kwaad. Mismoedig. Verward. Hulle het die belofte gehad dat God hul na ’n beloofde land sou lei, maar hier was hul vasgevang in die woestyn. Soos moedswillige, stout kinders het hulle gekla. Hulle was moeg vir manna en kwartels. Hulle het van al die wonderwerke van God vergeet. Hulle het selfs van God vergeet.

Hierdie moedswillige houding het God gegrief. In Eksodus 33:1 lees ons sy woorde aan Moses: “Trek nou hiervandaan af weg, jy en die volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het. Trek na die land toe wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob toe Ek gesê het: ‘Ek sal dit aan julle nageslag gee. Ek sal my engel voor jou uit stuur . . . Julle is so 'n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen.”

Hierdie boodskap van God het Moses geskok. Die volk sou hul sin kry om die beloofde land te betree, maar teen ’n hoë prys. Hulle sou dit sonder God moes betree. Vir Moses was dit ononderhandelbaar. Hy het God se teenwoordigheid geken en besef dat hulle daarsonder verlore sou word.

In Matteus 6:33 lees ons: “. . . soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (1953-hersiening)

Miskien is dit die vraag wat ons, onsself vandag moet afvra: Is ons só gefokus op die beloftes van God dat ons van Hom vergeet? Is ons bereid om bietjie langer te wag omdat ons God se tydsberekening vertrou of raak ons soos die Israeliete gefrustreerd as God nie gou genoeg antwoord nie en begin daarom ons eie kop volg?

Moses het die teenwoordigheid van God geken. Ons lees dat God met hom soos ’n vriend gepraat het. Hulle het ’n verhouding gehad. Juis hierom het Moses verkies om in die woestyn te bly eerder as om in die Beloofde land te betree sonder God. God het dit gesien en geëer. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir elke belofte in u Woord. Help my asseblief om nie so gefokus op die beloftes te raak dat ek van U vergeet nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke