Benescke Janse van Rensburg

In 2016 het ’n Chinese gesin vir hul dogtertjie ’n hondjie as troeteldier gekoop. Groot was hul verbasing toe die “hondjie” elke dag ’n hele boks vrugte en twee bakke noedels begin verorber. Nog groter toe die “hondjie” op sy agterpote begin loop. Wat die gesin nie besef het nie, is dat hulle nie ’n hondjie nie, maar ’n Asiatiese swartbeer (wat terloops ook ’n bedreigde spesie is) vir hul dogtertjie gekoop het! Die gesin moes die Yunnan Wildlife Rescue Centre nader om die gevaarlike beer uit hul huis te kom verwyder.

In ons lewens gebeur dit soms dat ons betrokke raak by dinge wat aanvanklik skadeloos lyk – die Whatsapp boodskappe met iemand buite jou huwelik, die dobbelgewoonte oor naweke, die geld wat jy by die werk vat, die slaappille elke aand . . . Ons glo ons kan dit vertroetel, want ons is mos “in beheer” daarvan. Voor ons ons oë uitvee, begin hierdie  hondjies op hul agterpote loop en besef ons dat ons nie meer in beheer is nie.

In Markus 9:43-45 sê Jesus: As jou hand jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur. . . En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy altwee oë het en in die hel gegooi word.

Dit klink radikaal, maar Jesus het geweet hoe gevaarlik hierdie “troetelbere” in ons lewens kan raak. Hy wou ons beskerm omdat hy geweet het watter skade dit aan ons huwelik, ons familie en ook ons toekoms kan maak.

Ware geloof is om soos die Psalmdigter in Psalm 139 op ’n gereëlde basis vir God te vra om ons hart te deursoek en vir ons uit te wys of daar enigiets is wat ons vertroetel wat skadelik vir ons kan wees – en om dan te doen wat Jesus vir ons sê om te doen: “Pluk dit uit. Sny dit af. Maak klaar en beweeg aan.” Kom ons neem daardie stap vandag. Jy doen dit nie alleen nie. God stap saam met jou. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my help wanneer ek swak is. Versterk my asseblief om weg te stap van “troetelbere” in my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.