Deur Benescke Janse van Rensburg

Al ooit gehoor van Koku Istambulova? In ’n onlangse nuusberig word dié Russiese vrou op 128-jarige ouderdom as die wêreld se oudste vrou gereken. Mens sal dink dat Koku dankbaar is vir haar lang lewe. Die teendeel is egter waar. In ’n onderhoud noem sy dat sy nog nie een dag in haar lewe waarlik gelukkig was nie. Sy wens ook dat sy liewer op ’n jong ouderdom gesterf het. Sjoe! Vir my is dit bykans onmoontlik om te dink dat daar nie ’n dag se geluk in 128 jaar was nie!

Miskien het hierdie ongeluk van Koku iets met haar ingesteldheid op die lewe te make. En tog, soms is ons net soos sy. Ons sien makliker die negatiewe, donker dinge raak in ’n situasie as om te soek vir die goeie. Die Psalmdigter herinner ons daaraan dat dankbaarheid en geluk ’n keuse is – iets wat ons vroegoggend moet neem. Luister weer na die woorde in Psalm 118:24: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.” Ook in 1 Tessalonisense 5:17-18 word ons herinner aan die belangrikheid van dankbaarheid: Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Voel jy vanoggend soos Koku weens uitdagings in jou lewe? Onthou, in elke situasie (hoe donker ook al) is daar iets om voor dankbaar te wees. Soek daarna. Kom ons vervang ons “Koku-bril” waardeur ons na die lewe kyk met ’n “God bril” deur Hom te vra om ons deur sy Heilige Gees bewus te maak van elke goeie gawe wat ons uit sy hand ontvang. Kort voor lank gaan ons verstom staan oor hoe mooi die lewe is – en hoeveel geluk ons wel in ons harte ronddra. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek U kan loof en prys vir U grootheid en goedheid. Dankie, vir elke genadegawe uit U hand. Help my om dit raak te sien vandag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien ’n foto van Koku by www.benescke.co.za of op Facebook se Stories van Hoop bladsy.