Benescke Janse van Rensburg

Vyf weermagte wat op pad is om ’n stad in te val. Die son en maan wat stilstaan. En God wat die eer kry. Dít klink amper soos ’n lokprent vir ’n aksiefliek. Tog, dít is waarvan ons in Josua 10 lees.

Josua en die Israeliete het die beloofde land betree en sovêr hul getrek het, het hul die grondgebied verower omdat God hul gehelp het. Die konings in die land was paniekbevange – veral toe hulle hoor dat Gibeon, een van die magtige stede, ’n vredesverdrag met die Israeliete gesluit het. Die konings het geweet dat sou die Israeliete en die stad Gibeon se vegters saamspan, geen stad wat hul aanval, staande sou bly nie.

Vyf konings het besluit om kragte saam te span en Gibeon in te val. Dit was hul poging om die Israeliete te stuit. Die koning van Gibeon het ’n boodskap na Josua gestuur en hulp gevra. Gou het Josua en sy magtige krygers vertrek om te gaan help omdat hul ’n belofte van God gehad het: Moenie vir hulle bang wees nie, Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle is teen jou bestand nie.” (Joshua 10:8).

Nadat Josua en die manskappe regdeur die nag getrek het, het hulle die vyand met ’n aanval verras. Ons lees dat God die vyand vreesbevange gemaak het vir die Israeliete. ’n Groot veldslag het plaasgevind. Haelstene het selfs uit die lug geval wat ’n klomp van die vyand se krygers vernietig het.

Joshua het besef dat die dag te kort is vir die aanval en ten aanhore van die Israeliete, het hy vir God gevra om die son en maan te laat stilstaan. In Josua 10:13 lees ons: Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het.” In een dag het Josua en die Israeliete die konings en hul lande oorwin, want God het die oorlog vir Israel gevoer.

Soms vergeet ons wie hierdie God is wat ons aanbid. Hy wat die son en maan kan laat stilstaan omdat Hy in beheer is van die skepping. Wat het jy vandag nodig? Dalk ook dat Hy die “son en maan” moet laat stilstaan sodat jy als wat jy moet doen, gedoen kry? Dalk het jy Hom nodig om in jou lewe in te gryp omdat dit voel of ’n kragtige weermag teen jou optrek? Hy bly in beheer van ons elkeen se lewens. En om met geloof en selfvertroue in die veldslag in te stap omdat ons weet dat Hy aan ons kant is – dít is ware geloof. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U almagtig is en in beheer van my lewe bly. Help my asseblief om nie in vrees te leef nie, maar om myself te herinner aan wie U is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke