Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Onlangse gesprek met ’n weduwee het my hart geraak. Sy het vertel dat sy op haar man, wat in ’n motorongeluk gesterf het, se begrafnis iets interessant van hom ontdek het. ’n Onbekende vrou het na haar gestap, haar aan die arm gevat en haar bedank vir wat haar man vir hulle as gesin beteken het. Sy het nie geweet waarvan die vrou praat nie.

Dié het voortgegaan om te vertel dat haar eie man maande vantevore met kanker gediagnoseer is. Omdat hy al swakker geword het, kon hy nie langer werk nie. Dít het geweldige druk op hul finansies geplaas. Sy het vertel dat sy geen idee het waar die weduwee se man van hul situasie te hore gekom het nie omdat hulle dit met niemand bespreek het nie, maar keer op keer op ’n Vrydag het hulle as gesin gesien hoe hy voor hulle huis stop en ’n klomp sakke kruideniersware aflaai. Dit was telkemale hul antwoord op gebed omdat daar bykans niks kos in die huis was nie. Die weduwee se man het nooit daaroor gepraat nie.

In Jakobus 2:15-18 lees ons: “Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: ‘Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,’ maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.” Ook in Matteus 25:40 sê Jesus: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”

Ware geloof in God, is om belang te stel in dinge waarin Hy belangstel – om daar te wees vir diegene in nood. Om ’n las te verlig waar ons kan. Alhoewel ons nie mense in nood help met die doel om iets van God terug te kry nie, het ek al telkemale beleef hoe Hy die gewer seën. Luister maar na die woorde in Spreuke 19:17: “Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.”

Dink vir ’n oomblik: Wie is daar in jou lewe wat swaarkry – emosioneel, finansieel of fisies? ’n Enkelmamma? ’n Weeskind? ’n Familie met ’n kind met spesiale behoeftes? ’n Kollega wat deur ’n egskeiding gaan? Kom ons hou ons oë en ore oop vir die influistering van die Heilige Gees en kom ons wees gehoorsaam. Kom ons leef ons geloof. Wie weet, dalk is ons vandag die antwoord op iemand anders se gebed. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir elke goeie gawe wat ek daagliks uit u hand ontvang. Help my asseblief om diegene in nood raak te sien en lei my deur u Heilige Gees om te weet wat ek kan doen om ’n las te verlig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Opdrag: Probeer uitreik en goed wees vir ten minste een persoon vandag.

Terugvoer: Gesels saam of gee gerus terugvoer oor die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke