Benescke Janse van Rensburg

’n Paar jaar gelede het ’n soldaat in Lebanon by ’n gebreklike vrou op straat gestop en vir haar water aangebied om te drink. Hierdie vrou, Fatima Othman, het die gebruik van haar bene en hande verloor nadat sy in die Libanese Burgeroorlog beseer is. Sy was nou ’n bedelaar. ’n Bystander het ’n foto van die soldaat se weldaad geneem, wat soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het.

Fatima het onlangs op 52-jarige ouderdom gesterf. Die polisie het haar liggaam op straat gekry waar sy in ’n verlate motor geslaap het. Langs haar was twee plastieksakke propvol geld – sowat R415,000. Tussen die note het hulle ’n bankdepositoboekie ontdek. Met nadere ondersoek is ontdek dat Fatima sowat R14 miljoen in die bank gehad het – en steeds het sy as ’n bedelaar in ’n verlate motor gesterf.

Hierdie storie het my hart geraak. Alhoewel Fatima toegang gehad het tot oorgenoeg geld om ’n gemaklike lewe te lei – en selfs ’n voltydse versorger aan te stel – het sy gekies om ’n bedelaarsbestaan te voer. Dit het my laat wonder of ons nie ook soms dieselfde doen nie. Ons aanbid die Skepper van die heelal vir wie niks onmoontlik is nie. Tog, vertrou ons Hom soms net vir die krummels langs die tafel uit vrees vir teleurstelling sou ons, ons verwagting te hoog stel.

Luister egter weer na die woorde van die Psalmdigter in Psalm 23:6: Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe. . .” In Jeremia 29:11 sê God: “Ek weet wat Ek vir julle beplan . . .  voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!” En in 2 Korintiërs 9:8 lees ons: “En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”

Ervaar jy ’n lewe in oorvloed? Waarvoor vertrou jy God vandag? Onthou, God is in staat om vir ons vêr meer te gee as wat ons kan bid of dink. Hy berei vir ons ’n feesmaal en wil hê dat ons as ’n eregas moet aansit. Geloof is om seker te wees van die dinge waarop ons hoop en oortuig te wees van dít wat ons nog nie sien nie. Kom ons stap in geloof weg van die “armoedige bestaan”-ingesteldheid deur God in geloof te vertrou vir sy beste! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U in beheer van my lewe bly. Help my om my geloof en vertroue in U te plaas vir U beste vir my – en nie net tevrede te wees met die krummels langs die tafel nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Opdrag: Vra jouself eerlik: Het jy begin om ’n bedelaarsbestaan in enige area in jou lewe te voer of vertrou jy dat God jou kan help om ’n lewe van oorvloed te smaak?

Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke