Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Paar dae gelede, op ’n reënerige dag in Kaapstad, besluit ek om vir my 5-jarige en 3-jarige pannekoek te gaan koop. Met groot opwinding is ons die winkel in tot by die plek waar die pannekoekbakker reeds besig was om vir ander kliënte pannekoeke te bak. Nadat ek ons bestelling geplaas het, moes ons vir ’n paar minute staan en wag. My 3-jarige het nie baie van dié gewag gehou nie – en my luidkeels ingelig (tot my skaamte).

Die oomblik toe ek haar optel, het haar houding egter onmiddellik verander. Skielik was daar ’n glinstering in haar oë en ’n glimlag om haar mondhoeke terwyl sy met afwagting na die pannekoeke gestaar het. In daardie oomblik het ek besef dat waar sy onder op die vloer gestaan het, sy in die bruin toonbank vasgekyk het. Sy kon nie die pannekoekbakker of die pan of die reeds voltooide pannekoeke sien nie. Dít het tot haar frustrasie gelei.

Wanneer ons bid oor ’n saak en nie dadelik ’n deurbraak kry nie of lank wag op ’n deurbraak, is ons ook geneig om soos my 3-jarige ons ontevredenheid luidkeels teenoor God uit te stort. In 1 Korintiërs 13:12 lees ons egter: “Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”

Kom ons herinner onsself opnuut in moeilike situasies dat God die groter prentjie sien. Daardie deurbraak waarop ons wag is dalk baie nader as wat ons dink. Inteendeel,as Hy ons vandag sou optel sodat ons uit sy perspektief na ons situasie kon kyk, sou daar heel moontlik ook ’n glinstering in ons oë en ’n glimlag om ons mondhoeke verskyn het met die besef wat Hy eintlik vir ons beplan. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U in beheer van my lewe bly. Help my asseblief om nie te begin kerm en kla as ek nie dadelik ’n deurbraak in my lewe kry nie, maar om eerder my geloof in U te behou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Opdrag: Op watter deurbraak wag jy? Skryf dit neer en praat met God daaroor. Kies om jou geloof en vertroue volkome in Hom te plaas – vir ’n deurbraak in sy tyd.

Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke