Benescke Janse van Rensburg

In sy boek, How to win Friends and Influence people, skryf Dale Carnegie: “Jy kan in twee maande meer vriende maak deur geïnteresseerd in hulle te wees as wat jy in twee jaar sal maak deur ander mense geïnteresseerd in jou te probeer kry.”

Ken jy ook mense wat net oor hulleself gesels – hul suksesse, hul uitdagings, hul besittings en selfs hul kinders se prestasies? Dit kan nogal uitdagend wees om ’n gesprek te probeer voer aangesien só persoon se fokus net op hulself is. Hulle vra nooit uit nie en wanneer jy wel iets vertel, is dit asof hul nie werklik belangstel nie.

Die eintlike vraag is of ons nie ook só verhouding met God het nie? Wanneer ons bid, is ons só gefokus op ons “Bidlysie” en wat ons benodig dat ons vergeet van die Een met wie ons praat. Ons bekla ons lot sonder om ooit te vra hoe dit met Hom gaan. Wat pla Hom? Waaroor is Hy opgewonde? Is daar dalk iets in ons lewens wat Hy wil verander? Is daar ’n behoefte by iemand anders wat Hy ons wil gebruik om te bevredig?

In Genesis lees ons dat God vir Adam en Eva geskep het om ’n verhouding met hulle te hê. ’n Vriendskap. Hy het dag na dag saam met hulle in die Tuin van Eden gewandel. Hy het met hulle gesels. Dit was ’n wedersydse gesprek. Die sondeval het ’n skeiding tussen God en mens gebring wat slegs deur Jesus se kruisdood herstel kon word. Vandag het ons die geskenk van die Heilige Gees wat in ons woon. Ons kan dus God se stem daagliks hoor.

In Jakobus 4:8 lees ons: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”

My uitdaging aan ons elkeen is om ’n stap in geloof te neem en uit te vind wat God op die hart het. Kom ons kry ’n joernaal en raak stil terwyl ons begin neerskryf wat ons in ons gees ervaar. Sonder uitsondering is die waarborg daar dat ons verstom gaan staan oor wat ons hoor wat ons voorheen gemis het omdat ons fokus net op onsself was! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U ’n verhouding met my begeer. Vergewe my vir kere in die verlede waar my gesprekke met U net oor my en my uitdagings gegaan het en dat ek nie eens belang gestel het wat in U hart aangaan nie. Help my asseblief om U stem te hoor as U met my praat. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

·         Opdrag: Kry ’n joernaal en probeer gerus om te luister na wat God vir jou wil sê. Skryf dit neer en meet dit aan die Woord. Jy mag verras word deur wat jy hoor.

·         Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke