Deur Benescke Janse van Rensburg

Aan die binnekant was die huis vol mense. Ook buitekant het ’n skare mense saamgedrom. Sommige was daar uit nuuskierigheid. Ander uit desperaatheid. Nog ander met die hoop om hierdie Leermeester persoonlik te ontmoet. 

Aan die binnekant was daar skielik vanaf die dak se kant, ’n harde geluid, gevolg deur doelgerigte kapgeluide. Met die stof wat na onder val, het die gat in die dak al groter geword. Wat was besig om te gebeur? Meteens het vier opgewonde mans se gesigte deur die gat in die dak verskyn, voordat hulle, hul verlamde vriend se bed na onder begin sak het.

Die groot skare mense buite die huis het nie dié groepie mans afgeskrik nie. Hulle harte was vol hoop en geloof en hul was nie van plan om sonder ’n wonderwerk deur hierdie Leermeester, Jesus Christus huis toe te gaan nie.

In Lukas 5 lees ons dat Jesus hierdie mans se geloof gesien het. In vers 24 sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou, staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.” Die verlamde man het opgestaan terwyl hy en sy vriende aangehou het om God te prys.

Hierdie Junie-maand wil ek fokus op die tema: Geloof. Wat is jou behoefte vandag? Ook genesing soos hierdie verlamde man? Vertrou jy God dalk vir ’n huweliksmaat, ’n nuwe werksgeleentheid, ’n eie huis, ’n finansiële deurbraak, ’n kindjie of selfs vir die herstel van jou huwelik? Wat doen jy terwyl jy wag? Word jy afgeskrik deur die “skare mense” buite die huis? Of is jou hart soos die groepie mans sin gevul met geloof en vertroue met die wete dat niks vir God onmoontlik is nie? Onthou, Hy sien wat in ons harte aangaan – en as jy Hom volkome vertrou en dit bewys, mag jy dalk net beleef dít waarvoor ons Hom vertrou. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek weet dat niks vir U onmoontlik is nie. Vergewe my vir tye van ongeloof en vul my hart met ’n hernude hoop en geloof sodat ek soos hierdie mans onverskrokke in U vermoë kan bly glo. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag: Waarvoor vertrou jy God? Skryf dit neer en gesels met Hom daaroor. Glo en vertrou ook dat Hy die beste vir jou wil hê – en dat sy tydsberekening perfek is.
  • Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke