Ben Fourie

“Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het’” en “Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel.” Matteus 28:13,15

Ons laaste oordenking gaan nie oor ’n gelykenis nie, maar oor ‘n storie wat as dit waar was, ons hele geloof niksseggend sou maak. As die wagte se storie waar is dat Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, maar dat sy liggaam skelm deur sy dissipels weggedra is, is ons geloof volgens Paulus in 1 Korintiërs 15:17 niks werd nie: “En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sonde”. Jesus se opstanding uit die dood is die waarborg dat God sy offer aan die kruis aanvaar het. Sonder opstanding is daar geen versoening.

Van al die stories in die Bybel is hierdie een wat deur die wagte versprei is en deur die Joodse Raad georkestreer is, potensieel die heel gevaarlikste. Die Joodse Raad het besef dat as die mense eers begin glo in die opstanding van Jesus uit die dood, die verhaal daaroor soos ‘n veldbrand deur die land sou versprei. Daarom die fopnuus van die dissipels wat sy liggaam kom steel het. ’n Lewende Jesus was vir die Jode uiters gevaarlik. As hierdie set van hulle egter geslaag het, sou die boodskap van die Evangelie net daar skipbreuk gely het, want sonder ’n opstanding is daar geen Blye Boodskap nie.

Die Bybel vertel gelukkig vir ons ook hoe Jesus na sy opstanding aan sy dissipels verskyn het. Selfs die skoon linnedoeke waarin Josef sy liggaam toegedraai het, het in die graf bly lê as teken dat Hy opgestaan het. As die dissipels sy liggaam kom steel het, sou hulle tog nie die doeke afgehaal het nie. Vandag is die hele saak oor die opstanding weer baie op die voorgrond. Daar is mense wat hulleself Christene noem wat nie glo aan Jesus se liggaamlike opstanding nie. Ons kan maar net met Paulus saamstem wanneer hy in 1 Korientiërs 15:19 sê: “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense”.

Gebed: Baie dankie Here Jesus dat U vir my die dood oorwin het en dat die storie wat die wagte versprei het niks meer as ‘n storie is nie. Amen