Ben Fourie

“Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie.” Lukas 12:22

Mense het daagliks na die tempel gegaan om te aanbid of ‘n offergawe te bring. In die verhaal van die arm weduwee wat in Lukas 21 opgeteken is, was Jesus, soos Hy dikwels gedoen het, by die tempel besig om die mense te leer en aan hulle die evangelie te verkondig. Dit was nie lank nadat hy die handelaars en geldwisselaars daar verdryf het nie. Hy vertel verskeie gelykenisse, maar dan speel daar ‘n klein tafereel af wat Hy onmiddellik omskep om ‘n waardevolle waarheid aan al die luisteraars te bring. Tussen die stroom rykes wat by die offerkis aandoen om uit hulle oorvloed mildelik by te dra, is die figuur van ‘n arm weduwee. Die Bybel vertel nie vir ons of die weduwee dalk ’n bejaarde was met niemand om vir haar te sorg nie of dalk ‘n jonger persoon met klein kinders vir wie sy moes sorg nie. Feit van die saak was dat sy arm was.

Wat maak haar twee klein muntstukkies so besonders dat Jesus daarop kommentaar lewer? Ons moet nie die verhaal sien as kontras tussen ryk en arm waar die ryke so half veroordeel word nie. Dit gaan om ‘n houding en ’n verhouding. Waar die ander se bydraes uit hulle oorvloed kom, is haar bydrae letterlik dit wat sy nodig gehad het om van te lewe. Sy gee dus nie uit die bietjie wat sy het proporsioneel ‘n klein bietjie nie, sy gee absoluut alles.

Haar optrede gee vir ons twee baie belangrike riglyne oor haar verhouding met God en dit is juis hierdie boodskap wat Jesus aan sy luisteraars wil deurgee. Eerstens was daar ‘n werklike behoefte by haar om ‘n offer aan God te bring, wat die rede ook mag wees. Waarskynlik was hierdie ’n dankoffer en wanneer ’n mens werklik graag vir God wil dankie sê, is selfs jou heel laaste geldjies nie vir jou te kosbaar nie. Tweedens vertel haar optrede ‘n verhaal van absolute vertroue op God. Dit is my laaste muntstukkies Here, maar ek weet U sal sorg.

Gebed: Here baie dankie dat ek elke dag genoeg het om van te lewe. Maak my oë oop vir die nood van ander en help my om in moeilike tye op U te vertrou. Amen