Ben Fourie

“…is jy afgunstig omdat ek goed is?” Matteus 20:15b

Die gelykenis van die werkers wat op verskillende ure van die dag begin werk het maar tog presies dieselfde besoldiging gekry het, klink so half onregverdig en dit is dan presies hoe die wat die volle dag gewerk het dit ervaar. In vers 11 kla hulle by die werkgewer: “Hierdie laastes het net een uur gewerk en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.” Dit voel darem net nie reg nie. Selfs in ons moderne tyd tel lang diens mos wel.

Die verklaring vir hierdie skynbaar onregverdigheid begin eintlik reeds in hoofstuk 19. In hierdie hoofstuk gaan dit om ‘n ryk jong man wat nie kans sien om van sy besittings afstand te doen om Jesus te volg nie. Wanneer hy dan omdraai en Jesus verlaat, sê Jesus dat dit maar moeilik is vir ‘n ryk man om in die koninkryk in te gaan. Sy dissipels verstaan dit glad nie en vra wie kan dan hoegenaamd gered word. Jesus se antwoord is: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

Om te illustreer hoe God met mense werk en selfs die onmoontlike moontlik maak, vertel Jesus dan die verhaal van die arbeiders wat dieselfde loon kry al het hulle verskillende ure gewerk. Wanneer die klaers beswaar maak is die werkgewer se woorde aan een van hulle; “Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie?” Inderdaad. Die werkgewer het tog met elkeen kontrak gesluit vir ‘n sekere loon en daarom behandel hy niemand onregverdig nie.

Die groot les wat Jesus vir ons elkeen wil leer is dat niemand te goed of te sleg is om deur Hom gered te word nie en dit is nie vir my om te sê hoe, wanneer en wie gered moet word nie, want vir God is niks mos onmoontlik nie. Iemand sê onlangs vir my daar was seker groot vreugde toe eerwaarde Billy Graham in die hemel aangekom het. Natuurlik ja, maar ek dink die vreugde is nog groter oor elke sondaar, selfs al is dit ‘n laatkommer, wat die hemel haal.

Gebed: Baie dankie dat U vir my ook die volle loon betaal. Amen