Ben Fourie

“Baie is immers geroep, maar min is uitverkies” Matteus 22:14

In Matteus 21 en 22 word twee mooi verhale vertel oor ‘n boer en sy wingerd asook ’n koning wat vir sy seun ’n groot bruilof wou hou. Dit is die moeite werd om albei die verhale volledig te lees, want hier word in storievorm vertel hoe die geskiedenis van die volk Israel verloop het en hoe God na Jesus se koms in die toekoms te werk sou gaan. Dit alles na aanleiding van die vraag oor Jesus se gesag wat in hoofstuk 21:23 aan Hom gestel word. Die vraestellers was lede van die Joodse Raad. Hulle wou Jesus uitlok om te sê dat Hy die Messias is en sy gesag van God af kry, want dan sou hulle Hom kon arresteer en aankla, maar Jesus val nie in hulle lokval nie. Hy gebruik twee verhale.

Die wingerdboer is natuurlik God self wat vir Hom ’n uitverkore volk geroep het, hulle versorg het deur ’n klipmuur en ‘n wagtoring as beskerming te bou. Hy stuur met oestyd sy werkers in die vorm van die priesters en profete van die Ou Verbond in die wingerd in om sy deel van die oes te ontvang, maar die boere aan wie hy dit verhuur het (die volk Israel) het nie na hulle geluister nie, ja sommige is selfs doodgemaak. Ten einde laaste stuur hy sy eie seun, maar die boere sien dit as geleentheid om sommer die hele winged vir hulle te vat en maak die seun dood.

In die tweede storie lees ons van die koning wat ‘n bruilof vir sy seun gee en al die vername gaste (lees weer die volk Israel) uitnooi, maar hulle steur hulle nie aan die uitnodiging nie, hulle gaan maar met hulle alledaagse lewe aan. Dan kom die uitspraak finaal in Matteurs 22:8 oor wat eers die uitverkore volk was: “Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit werd nie”. Dit skep die ruimte vir die knegte om uit te gaan en oral mense te nooi, goeies sowel as slegtes, armes, kreupeles, verminktes en blindes. In God se oë is almal nou die moeite werd, ook ek en jy. Die bruilofsaal word vol en die fees kan begin. Jesus is inderdaad die Een deur wie God in die Nuwe Verbond sy bruilofsaal volmaak.

Gebed: Baie dankie dat U my ook genooi het, al is ek soms geestelik so blind en vermink. Amen