Ben Fourie

“Sout is ‘n goeie ding. Maar as sout verslaan het, waarmee sal dit weer sout gemaak word” Lukas 14:34

Sout is vandag spotgoedkoop, maar dit was nie altyd so nie. In antieke tye was dit duur. Die Romeinse soldate is dikwels met sout betaal en die woord salaris kom van die Latynse woord vir sout: salarium.

In die voorafgaande gedeelte praat Hy oor die eise van dissipelskap en gaan so ver om te sê: “Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie.” Dit alles is na aanleiding van die groot menigte wat saam met Jesus gereis het soos Lukas 14 25 dit uitspel. Met sy optrede in die Oos-Jordaan streek het Jesus skielik baie gewild geraak en talle mense het Hom begin volg. Daar was natuurlik in daardie tyd groot verwagting dat die Messias sou kom om die juk van die Romeine af te gooi en mense het begin vra of Jesus nie dalk die Messias is nie.

Jesus besef dat daar onder hierdie menigte aanhangers maar baie is wat met verkeerde motiewe soos blote nuuskierigheid of sensasiebelustheid agter Hom aan kom en daarom die gelykenis van die man wat die huis wou bou en verder.

Bereken eers wat die koste van dissipelskap is waarsku Jesus hier. As jy wil huisbou begin jy tog nie sommer blindelings bou nie, want as jou geld halfpad opraak lag en spot almal met jou oor die halfvoltooide gebou. Dit is net so maklik om Christen te word as wat dit vra om ‘n huis te begin bou, maar albei vra op die lange duur baie volharding. “Kruisdra” noem Christus dit self, as dit nodig is selfs afstand doen van familie en selfs van jou eie lewe. Kyk maar hoe selfs in ons moderne eeu mense wat uit ander gelowe na die Christendom bekeer word uit hulle families verban word. Om Christen te word vra dus om baie mooi te dink of jy vir die gevolge kans sien. In Matteus 5 noem Jesus ons die sout vir die aarde dit wil sê ons is kosbaar vir die koninkryk, ons moet die groot bederf van die bose teëwerk. As ons nie bereid is om te volhard nie verslaan die sout egter en is ons niks vir die koninkryk werd nie.

Gebed: Help my asseblief om te bly volhard. Amen