Ben Fourie

“Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” Lukas 14:11

In Lukas 14 word vertel hoe Jesus op die Sabbatdag ‘n man wat aan watersug gely het gesond gemaak het. Die Fariseërs met hulle talle wette het graag uit die hoogte na ander mense gekyk en hulle beoordeel op grond van besittings, status en natuurlik godsdienstige oortuigings. Jesus was in hulle oë nie hoog op die rangleer nie.

Tog het ’n vooraanstaande Fariseër vir Jesus vir die sabbatsmaal genooi, baie moontlik uit nuuskierigheid om sy boodskap te hoor. Die genesing vind dan in sy huis plaas. Van die teenwoordige Fariseërs het afkeurend, maar stilswyend toegekyk. Net na die genesing sit almal wat daar was aan vir ete en Jesus merk dat hulle die vernaamste plekke aan tafel uitsoek.

Daarop vertel Hy die gelykenis van die bruilofsgaste wat ook so ewe nie gewag het vir die gasheer om plekke aan te wys nie, maar wat voorbarig die voorste plekke ingeneem het. Vir hierdie verhaal put Jesus waarskynlik uit die Ou Testament waar ons in Spreuke 25:6-7 lees: “Moet jou nie vernaam aanstel by die koning en op die plek vir hoë mense gaan staan nie. Dit is beter dat hy vir jou sê: ‘Kom op hiernatoe!’ as dat hy jou laat plek maak vir die vername mense”.

Die verhaal gaan nie oor oordrewe nederigheid nie. Wat Jesus wel hier onder die aandag wil bring is dat die lewe nie daaroor gaan oor wat jy van jouself dink nie, maar wat God (die gasheer) van jou dink. Dit is immers die gasheer se voorreg om te laat sit waar Hy wil. Beteken dit dan dat daar in God se koninkryk ook ‘n ranglys is waar sommige gelowiges meer aansien het as ander, dalk omdat hulle meer gelowig is. Nee! Dit is nie die bedoeling van die storie nie. Nêrens in die Bybel kry ons die indruk dat God witbroodjies het nie. Wanneer Hy na ons kyk, sien Hy nie ons goeie werke, ons goeie lewe raak nie, Hy sien die bloed van sy Seun raak wat aan die kruis vir ons gesterf het.

Gebed: Baie dankie dat my plek in die koninkryk nie bepaal word deur wie ek is nie, maar deur wie U is. Amen