Ben Fourie

 “Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’”  Matteus 25:21

Wanneer Jesus hierdie gelykenis van die muntstukke vertel is dit maar nog net twee dae voor die paasfees, ‘n baie spesiale paasfees, ja ‘n paasfees wat later met ‘n hoofletter geskryf sou word, die Paasfees waar Jesus self die offerlam sou wees en laat Vrydagmiddag sou uitroep: “Dit is volbring”. Dit is binne hierdie konteks wat ons die storie van ’n man wat op reis wou gaan en sy besittings aan sy slawe wou gee om mee te werk en te woeker, moet verstaan.

Met sy dood op hande, die opstanding op die derde dag en na veertig dae die hemelvaart, weet Jesus dat Hy sy volgelinge gaan verlaat om na sy hemelse woning terug te gaan en onderrig Hy hulle oor wat om te doen na sy vertrek. Hy is die man wat op reis gaan en hulle die slawe wat na sy besittings moet omsien tot by die wederkoms – na ’n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom sê die Bybel.

In die storie self behaal die slawe wisselende sukses met hoe hulle die saak aanpak. Twee slawe woeker aktief met die geld en maak ’n baie gangbare wins. Die derde slaaf is in sy eienaar se latere woorde “sleg en lui” en sy muntstuk wat begrawe word lewer soos mens kan verwag geen wins nie.

Reg verstaan, verwag Jesus dat elkeen van sy volgelinge in sy koninkryk werksaam sal wees, maar die vraag is sekerlik of ons almal wel in staat is om vir die Here te werk. Is God nie bietjie onregverdig en verwag Hy nie dalk te veel van my nie? Jesus gee self die antwoord in die gelykenis. In vers 15b lees ons: “Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee …”. God gee nie vir my vyf muntstukke as Hy weet ek kan net een hanteer nie, maar elkeen van sy volgelinge kan iets doen. Die Bybel sê in 1 Korintiërs 12:11 dat die Gees aan ons elkeen afsonderlik gawes uitdeel soos Hy wil. (my kursivering) en soos Hy natuurlik weet ek kan hanteer.

Gebed: Here help my om ook ’n goeie en getroue slaaf te wees sodat ek ook in die vreugde van my Heer kan deel.  Amen