Ben Fourie

“Hy wat dit alles getuig, sê: ’Ja, Ek kom gou’”. Openbaring 22:20

Kort voor sy dood aan die kruis begin Jesus sy dissipels leer deur wat bekend staan as die profetiese rede en gee hulle ‘n blik op die nabye toekoms asook die gebeure rondom sy wederkoms. Sentraal is die gedagte van voorbereid wees op wat moet kom en dan nie net vir die wederkoms nie, maar ook die tyd van verdrukking wat sy volgelinge binne die volgende paar dekades onder heerskappy van die Romeinse owerhede sou ly.

In Matteus 24 en 25 gebruik Jesus drie gelykenisse om ons voor te berei. Die gelykenis van die vyeboom is belangrik omdat Jesus daar sê dat die verdrukking en vervolging nie iets vir die verre toekoms is nie, maar baie daarvan reeds in hulle leeftyd sou plaasvind. Die gelykenis van die getroue en ontroue slaaf asook die een oor die tien meisies en hulle lampe dra die boodskap oor van gereed wees omdat die dinge wat Jesus voorspel gewis sal kom. In albei die gelykenisse waarsku Jesus teen oorgerustheid, want die dinge sal skielik op ‘n dag gebeur en dan moet ‘n mens nie onkant gevang word nie.

Die storie van die tien meisies met hulle lampe is ‘n pragtige verhaal wat vir die mense van Jesus se tyd baie bekend was. Dit was die gebruik dat ongetroude meisies met lampe langs die pad wag vir die koms van die bruidegom. Wanneer hy dan kom is daar groot vreugde en begelei hulle hom na die bruilof. In die storie het vyf van die meisies hulle egter misgis met hoe lank dit sou vat vir die bruidegom om op te daag. Hulle verhaal is eintlik ‘n heel hartseer storie, want hulle weet die bruidegom kom, maar is nie werklik voorbereid nie en hulle lampe gaan dood weens ‘n gebrek aan genoeg geestelike olie. Wanneer hulle na ‘n gesukkel met olieaankope uiteindelik by die bruilof opdaag, moet hulle die vreeslike woorde hoor: “Ek ken julle nie.” Hoe naby is Jesus se wederkoms vir elkeen van ons? So naby as die dag wat ek sterf en die uur daarvan weet nie een van ons nie.

Gebed: Help my om werklik gereed te wees vir die dag dat u wederkoms vir my aanbreek. Gee my nou reeds sekerheid dat U my ken. Amen