Ben Fourie

“Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?"  Lukas 18:7

Wat ‘n pragtige storie van ‘n regter wat nie vir God of mens ontsag het nie, maar so deur ‘n weduwee lastig geval word omdat hy nie reg en geregtigheid aan haar laat geskied nie, dat hy uiteindelik maar toegee. ‘n Mens kan die hele verhaal mooi voor jou sien afspeel. Vanweë sy amp was die regter natuurlik ’n baie gesiene en sekerlik ook ‘n baie besige persoon. Tyd vir die beuselagtige probleempies van ‘n weduwee het hy nie gehad nie. Tog het hy mettertyd so moeg geword vir die weduwee wat hom aanmekaar lastig geval het, dat hy maar toegee aan haar versoek en in haar belang optree.

Aan die ander kant was die weduwee wat so seker was van haar saak dat sy net nie wou moed opgee nie. Die Bybel sê dat sy hom herhaaldelik kom vra het om aan haar reg te doen teenoor diegene wat haar verontreg het. Sy wou net nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie.

In vers 1 sê Jesus reeds vooruit die gelykenis gaan daaroor dat ’n mens nooit moedeloos moet word wanneer jy bid nie. Hy gebruik die verhaal van die regter en die weduwee om te wys hoe God met mense handel. Twee sake staan uit. Eerstens word ons aangemoedig om nie moedeloos te word as ons bid nie veral as dit lyk asof God baie lank vat om te antwoord. Dit is veral wanneer ons in werklike nood is wat dit soms lyk asof ons teen ‘n muur vas bid en na ‘n tyd gee ons maar moed op. In 1 Tessalonisense 5:17 lees ons egter dat ons voortdurend moet bid of soos die 1933/53-vertaling sê: ”Bid sonder ophou”.

In die tweede plek is daar die manier hoe God met ons werk in kontras met die regter. Verse 7b en 8 sê: “Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: hy sal hulle help en gou ook.” God help nie omdat Hy moeg raak vir ons aanhoudende gevra nie, maar omdat Hy ons liefhet. Sy antwoord, sy hulp, mag dalk nie wees soos ek dit bestel nie, maar hoe God weet dit vir my die beste oplossing sal bied.

Gebed: Gee my die vermoë om op U antwoord te wag. Amen